top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

'n Lamsvelletjie teen die reën

Updated: Aug 11, 2021


Daar waar ek grootgeword het, was nie perde nie, net skaap en bees. En ek was ‘n dorpskind, nie ‘n plaaskind nie, so ek het ook maar nie geweet hoe al die goeters werk nie.


Toe ons twee-en-'n-half jaar terug Engeland toe kom, besef ek eers hoe lief hierdie mense vir perde is.


In Suid-Afrika sal jy jou kar stop en reverse om ‘n goeie kyk te kry.

Hier sal jy ‘n permanente afspraak by die fisio hê as jy jou kop wil swaai elke keer as jy hierdie pragtige diere gewaar!


En dit reën vreeslik baie; vir hierdie gebore Vrystater mos ‘n rare ding. Seker díé dat dit tot vandag toe vir my ‘n groot bekoring inhou.


Maar as dorpskind en diereliefhebber, kom my diere in huistoe as die sluise van die hemel oopmaak. Ek verstaan ‘n perd se kind is nie ‘n troeteldier nie, maar nog steeds.


Aanvanklik wou my hart breek as ek sien hoe hulle oral in die reën rondstaan. Sommige het die mooiste reënjassies aan en dit maak dit bietjie beter. (Vir my.)


Noudat ek egter bietjie meer van perde en hulle dinge weet, weet ek nou ook dat om hulle stal toe vat elke keer wanneer dit reën, in die oomblik dalk vir hulle beter sal voel, maar op die lang duur is dit nie vir hulle goed nie.


Soms is stal toe gaan nie ‘n opsie nie.


Sien, perde wat lank op stal moet bly, vir watter rede ookal, se bene swel omdat hulle nie regtig beweeg nie, en hulle raak gefrustreerd. So kan hulle hulself beseer ook wanneer hulle probeer uitbreek.


Soms bring die Here ons nie stal toe wanneer die storm losbars nie.

In Sy groot wysheid weet Hy dat alhoewel dit dalk vir my béter sal wees in die oomblik,

dit nie vir my die béste sal wees nie.

Nie op die lang duur nie.


Dan gooi Hy vir my ‘n karossie oor,

laat voel my weer die omarming van Sy nabyheid,

terwyl die hemelsproei meng met die water op my wange.


En al sou dit (vir my) beter wees om jou veilig in my skuilplek in te neem,

moet ek jou soms in die reën los waar Vader jou wil hê,

oorlat jou pyn sal swel as jy op een plek bly staan –

al is dit hier onderdak by my.


Die perde-eienaars hier is nie onmenslik nie. Daar is altyd ‘n paar bome, of ‘n afdakbedryfie êrens in die kamp vir wanneer stal toe gaan nie ‘n opsie is nie.


Die Here los ons ook nie sonder ‘n skuilplek wanneer die donders raas en die blitse weerkaats nie.


“He will cover you with His feathers. He will shelter you with His wings.

His faithful promises are your armor and protection.”

Psalms 91:4 NLT


Sy beloftes is ons beskerming.


Vir Hosea bring Hy dan saam met die voorspelling dat Israel ‘n tyd van donderstorms sou ingaan, hierdie belofte…:


“I promise that from that day on, you will call me your husband instead of your master…

…I will accept you as My wife for ever, and instead of a bride price,

I will give you justice, fairness, love, kindness and faithfulness.

Then you will truly know who I am.”

Hosea 2:16 CEV


Die wete dat die regverdige God regverdig sal oordeel, in liefde en deernis met my sal deel en getrou sal bly aan hierdie beloftes van Hom, hou my warm, al trotseer ek die wildste storm.


Soms is stal toe gaan, nie ‘n opsie nie.

Soms is net ‘n Lamsvelletjie genoeg om die storm te deurstaan.



Jou inspirasie vir die week: Praise You in this storm


bottom of page