Ontelbare geslagte het al troos geput uit die woorde van Jeremia 29:11. Maar vanoggend word ek weer herinner aan die konteks daarvan en ek staan opnuut verwonder. Hierdie belofte is soveel groter as wat ek besef!
“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie;
Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!”
Jeremia 29:11 1983-vertaling
Hierdie troos is nie net vir een nie – dit is gegee vir ‘n hele nasie. Israel en die geslagte wat sou volg het nog geen benul gehad van die omvang van die belofte nie.
Sy belofte is soveel groter as net vir my. Daar is soveel… ekstra daarin.
En my oë gaan weer bietjie oop vir al die ekstra’s in my lewe.
Ons het darem al baie geleer in die proses van oppak in die suidpunt van Afrika en skuif oor die kontinent. Stukkie vir stukkie het ons al die ekstras wat ons onnodig van plek tot plek geskuif het, weggegee en weggegooi en nou verras-verbaas besef ons mis eintlik niks nie.
Om bietjie beter tred te hou van ons finansies hier, deel ek deesdae ons inkopiegeld in vier en gaan doen dan eerder elke week ‘n rondte by die supermark. Waarvan ons nog het, moet nou eers op voor ons dit vervang en niks word ooit sommer meer ongebruik weggegooi nie. Die yskas is nie vol halfleë botteltjies en flessies nie en in die koskas word niks ooit meer anderkant die vervaldatum weggegooi nie.
Want as ons elke dag dankie sê vir kos, besef ons… ons het soveel ekstra.
Daar is nie net genoeg vir een ete nie, daar is genoeg vir baie.
Ons sê elke dag dankie vir ‘n dak oor ons kop, maar… ons het soveel ekstra.
Ons huis het ‘n gang. Met meer as een kamer. Met ‘n dak oor elkeen.
Klere hang nie meer kaste vol nie, maar… ons het soveel ekstra.
Wat vandag vuil is, kan môre maar nog steeds vuil wees, want ons het ander klere om aan te trek.
My skoene het ek erg uitgedun, maar… steeds het ek ekstra.
As die Engelse reën my sopnat maak vandag, weet ek dat ek môre ‘n ander droë paar sal hê.
Nie almal het ‘n kar hier nie, maar… daar was ‘n tyd wat ons ekstra gehad het.
Meer as een.
En dit alles laat my wonder of ek nie die ander ekstra’s in my lewe ook miskyk nie.
My vreugde is soms min, maar… eintlik het ek ekstra.
Elke kosbare Whatsapp van ‘n verre vriendin, herinner my daaraan.
My vrede is soms maar dun, maar… eintlik het ek ekstra.
As ek vroegoggend my studeerkamervenster oopmaak en na die ‘hallo-ek-lewe-nog’ liedjies van die voëltjies luister, drink my dorre siel dit op.
My liefde en genade vir ander raak soms op, maar… eintlik het ek ekstra.
Elke keer as ek in kalmte kan antwoord wanneer die wêreld ‘n harde woord verwag, ontdek ek dit weer.
My hele lewe is een van ekstra’s.
Want toe daar niks meer oor was om te doen nie, het Hy ekstra hard baklei om my uit die kloue van die dood te kry. En Hy het gewen.
Nou is Hy self… my ekstra.
“My flesh and my heart may fail,
but God is the strength of my heart and my portion forever.”
Psalm 73:26 English Standard Version
“My mind and my body may grow weak,
but God is my strength;
He is all I ever need.”
Good News Translation
Jou temalied vir die week: Call it Grace
Comments