top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

'n Ligte aanmoediging in die regte rigting




Dit is gewoonlik die sang wat my vang in die kerk.


Die prediker se boodskap kom word indeks-oortjies vir die goed wat ek later weer wil uithaal en herdink en oorkou.

Dit vat aan my denke.


Maar dit is die melodie en metafoor wat my gereeld in die middel van ‘n strofe stom laat terwyl ek net saam met die musiek wieg en my oë leeg loop.

Dit vat aan my hart.


Vanoggend egter, was anders.


Ons dominee Matthew gaan vandag op sy drie maande lange sabbatsverlof. Na sewe jaar is dit seker bietjie tyd…


Hy bring die boodskap uit Johannes en soos wat die Here dit wil hê, is my persoonlike ritme vir die heel eerste keer óóit in perfekte harmonie met ‘n preekreeks. Johannes, hoofstuk 1 vir my, en Johannes hoofstuk 1 vir die gemeente. En ek kry lekker, want ek hoor ons gaan tot aan die einde van die jaar deur Johannes werk, so elke week sal ek ‘n dubbele dosis duidelikheid kry – dit is die droom!


Na die diens sing ons weer en weer en weer en almal word uitgenooi om die gebedspan te gaan opsoek en nie die gebou te verlaat voordat hulle daardie gejeuk gekrap het nie.


Terwyl ons verder sing, stap manne en vroue van alle ouderdomme en kleure vorentoe en hang hulle neongroen Prayer Team koorde om die nek, gaan staan solank gereed, voorbereid om te help waar hulp nodig is en gevra word.


Die volgende oomblik vang my oog vir Matthew waar hy oorstap na ‘n oom wat maklik my oupa kon wees, vir hom ‘n neongroen Prayer Team koord om die nek hang, en terugstap na sy sitplek langs sy vrou, Grace, en soomloos inval by die volgende refrein.


Wat ek op die oom se gesig kon sien, is ‘n mengsel van verbasing en oorweldiging en dankbare trots.


Iemand sien hom raak.

Iemand sien sy hart raak.

Iemand sien sy liefde vir die Here raak.

En gee hom ‘n ligte aanmoediging in die regte rigting.

Dis tyd.


Vanoggend onderstreep Matthew vir ons weer die heel eerste woorde wat aan Jesus toegeskryf was:


“And Jesus turned

and saw them following Him,

and asked them, “What do you want?” “

John 1:38 AMP


Jesus weet wie Hom volg.

Hy sien hulle raak.

Hy ken hulle grootste hartsbegeerte.

Hy vra omdat Hy reeds weet…


“They answered Him,

“Rabbi (which translated means Teacher),

where are You staying?” “


Om by Hom te wees.

En Hy nooi hulle saam en hulle kuier en hulle leer en hulle gesels tot diep in die nag (stel ek my voor) en hulle gaan daar weg en hulle gaan vertel vir ander.


Vanoggend se boodskap was vir my soos ‘n kosbaarheid toegevou in die laaste paar minute van ‘n gewone Sondagdiens waaraan Matthew dalk nooit weer sal dink nie.

Maar ek sal.


Hy sien my raak.

Hy sien my hart raak.

Hy sien my liefde vir Hom raak.

En gee my ‘n ligte aanmoediging in die regte rigting.

Dis tyd.



Jou inspirasie vir die week: The best is yet to come



תגובות


bottom of page