‘n Mens kan beslis agterkom die seisoen het gedraai hier by ons. Dit is nou so amper half vyf en teen hierdie tyd in die middel van die winter, is dit al donker. Hier uit my studeerkamervenster lyk dit egter vir my nou kompleet na ‘n lui somersaand so teen sewe uur op Jeffreys se strand…. Dankie, tog! Die laaaang wintersaande is beslis iets om aan gewoond te raak.
Of nie.
Want die laaste twee weke of so begroet die borrelende deuntjie van ‘n klompie geveerdes my elke oggend kwart voor ses as my wekker afgaan. Die seisoen het nouwel al begin draai, maar dit is steeds donker daardie tyd van die oggend. En dan moet ek onwillekeurig glimlag, want nog nooit het ek hierdie gesingery in die nag gehoor nie.
Dit laat my wonder of hulle hulself nie kan help nie? Soos ‘n tweejarige van wie jy verwag om weg te kruip voor jou man by die huis kom op sy verjaardag sodat almal sáám kan skree: “Surpraais!!!”
Maar as sussie sy kar se deur hoor klap, is sy die eerste een om voordeur toe te hardloop en in sy arms te spring met haar eie verjaardagboodskappie…. Sy kon haarself net nie help nie.
“Sorrow is a very large ingredient in the cup of human life.
It begins so early and lasts so long;
it lies so near the surface and it strikes so deep into our nature;
it is so certain that we shall meet with it before long,
and so likely that we may renew our acquaintance with it very soon,
that they must be unwise indeed who do not prepare for its coming,
and they must be losers indeed who do not know how to treat it
when it knocks at their door.”
W. Clarkson
My eerste reaksie hierop was maar ‘n normale een in die lig van groot hartseer: ‘n swaar hart, ‘n swaar gemoed.
Maar toe dink ek aan daardie nagsingertjies en ek wonder oor hulle dialoog met hulle Skepper…
“Each morning let me learn
more about Your love
because I trust You.”
Psalm 143:8 CEV
“Gaan na die mier en word wys”, lui die gesegde. Sal ‘n goeie een nie ook wees “gaan na die nagsingertjies en leer loof” nie?
Ek het hierdie week my kuier in Spreuke begin en sommer so uit die blokke word ‘wysheid’ voor my neergesit as proeseltjie en hoofgereg en nagereg. So, wanneer meneer Clarkson meen dat dit onwys sou wees om jouself nie voor te berei vir die Groot Seer nie, wat sou hy meen?
Groot sielkundiges en beraders en wyshere sou seker teorieë hieroor hê en ek moet bely – ek het nie gaan opkyk nie.
Wat ek wel nou dink, is dat wanneer ons leer om lof te sing net voor die dag breek – want ons wéét dit kom en ons kan onsself net nie keer nie – dan raak dit makliker om dit in die draai net na middernag ook te doen. Wanneer die Groot Seer ons in sy inkput van nag dompel.
So, as ek vra vir wysheid, Here,
dan vra ek U om my te leer van U liefde,
elke oggend voor die dag nog breek,
vir lofgoed wanneer my hart verleer het hoe om te sing.
Jou temalied vir die week: Not afraid
Comments