Elke dag se ritme is ‘n tromslag. En tussen die bulderende frekwensies, in die stilte, kry mens soms nuwe insig.
Vandag is vir my so ‘n dag.
Hoekom sou ek dink dat God se droom vir my ‘n vervaldatum het? Die Best Before datum kan ek insien – wanneer dit perfek binne Sy tydslyn inpas en vir my die meeste waarde sou hê.
Maar al sou ek daardie hekkie mis, hou Hy nie op drome droom oor my nie.
Dalk is jy net moeg.
Dalk is die eise op jou tyd op hierdie oomblik net te veel.
Dalk laat die een skynbare mislukking op die ander jou onwaardig voel om oor gedroom te word.
Dalk het jy verkeerd gehoor.
Maar jy weet jy het nie.
Dit wat God in jou hart geplant het en wat jy alreeds een keer sien vrug dra het, is nie iets wat Hy harteloos en moedswillig uit die grond sal pluk nie. Solank dit daar is, geplant naby die waterstroom, bestaan daar altyd ‘n moontlikheid dat die vyeboom weer kan vrug dra.
Al sou die vyeboom nie nóú bot nie,
beteken dit nie
dit sal nooit weer nie.
Al sou die krale leeg staan en al jou drome
met die voetpad uit berge toe padvat,
waarheen weet geen mens nie…
al sou die olyfoes jou laat lag, want anders huil jy,
kom die son steeds elke dag weer op.
Hoor jy op ‘n dag weer die beeste se klokke lui
en kan jy hulle loop aankeer,
kan jy die bome snoei en nuwe botsels sien bloei.
Kan jy van voor af vra vir rigtingwysers.
Kan jy opstaan van die versplinterde halfweg bankie.
Dit was nooit gemaak vir lank sit nie.
“How blessed to have a different destiny
separately assigned,
as the result of a course
separately chosen.”
Jou temalied vir die week: Fear Not
Comments