top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Nog 'n kans

Updated: Feb 6, 2023




My ma kry maande lank chemo by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein in 2013. Die eerste dag sou sy gaan om haar bloede te laat toets sodat sy die tweede dag haar behandeling kan ontvang, en dan kon sy eers weer ‘n paar weke rus.


Dis op so ‘n eerste dag dat ek myself laat mislei en haar handsak met haar enigste drie ringe daarin word gesteel: Haar verloofring, haar troupand, en ‘n ringetjie wat my pa laterjare vir haar sou gee.


Ek voel so skuldig, en vir jare daarna probeer ek om nie daaraan te dink nie.

Haar hart was so seer, en eintlik het ek nie regtig verstaan nie.

Ek het dit gemis.


Tot ek my eie drie ringe verloor einde verlede jaar.

Dit is aardse goed en die van julle wat my persoonlik ken, sal weet dat ek ‘n permanente troupand op my ringvinger het.

Maar nog steeds… My hart was so seer.


Vrydagmiddag is die gejaag van die week op ‘n einde en kry ek kans om my kantoor bietjie reg te pak (konsternasie toe ons Baptiste dominee die vorige aand daar wou gaan inloer!).


In my kantoor hou ek ‘n boks met goedjies van my ma en goedjies van my pa. So tussen die regpakkery trek ek die boks ook nader en blaai weer deur briefies en goedjies wat my na hulle laat verlang.


My ma se eenvoudige juwelekissie is ook daar en vir die eerste keer lig ek die boonste fluweelrakkie af om te sien wat onder dit skuil…


‘n Goue troupand, en die ringetjie wat my pa laterjare vir haar gegee het.

Dit is net die verloofring wat toe gevat is.

Vir 9 jaar het ek dit gemis.


Hierdie jaar het ek besluit om my stiltetyd ook stadiger te vat, want ek is bang ek mis iets.

En nou is ek so bly ek het…


Ek trek nou by Mattheus en in hoofstuk 4 van The Message vertaling lees ek:


“Next Jesus was taken into the wild by the Spirit for the test. The Devil was ready to give it. Jesus prepared for the test by fasting forty days and forty nights.”


Vir so lank het ek gedink Sy tyd van honger en dors in die wildernis was deel van die toets.

Dit was nie.

Dit was net die voorbereiding vir die toets wat sou kom.

Ek het dit gemis.


Die Gees het Hom nie na die toets toe gestuur nie, maar Hom soontoe geneem.

Hy was nie alleen nie.

Ek het dit gemis.


Die Duiwel was gereed met die toets, maar die tyd van die toets was nie syne nie.

Eers toe die voorbereiding voldoende voltooi was, kon hy sy kans kry.

Ek het dit gemis.


Maar ek spandeer nou meer tyd met minder verse en hierdie mis ek toe níé:


“The Test was over. The Devil left. And in his place, angels!

Angels came and took care of Jesus’ needs.”

Matt 4:11 The Message


Die slegste tye in ons lewe is net voorbereiding vir daardie oomblik dat daar van ons gevra sal word om te kies.


(Hierdie tye kom meer as een keer, want ek glo die Here weet Sy studente leer maar stadig.)


Nog ‘n slegte seisoen, beteken ek sal nog ‘n kans kry om te kies.

Mag ek dit nooit weer mis nie.



Jou inspirasie vir die week: Unconditional




Commentaires


bottom of page