top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Onbeskaamd oud


Hulle sê jy weet jy word oud as jy jou trui aantrek en jou ma se handjies kom by die moue uit.


Die afgelope jaar begin ek al hoe meer die tekens van die tye sien aan die fyn spataartjies om my enkels, die los velletjies aan die binnekant van my elmboë en die kalkoennekkie wat na my terugstaar uit die spieël voor my.


Kan nie sê dit pla my níé, maar dink ook nou nie ek sal Botox oorweeg nie.

Dit is maar net nog ‘n feit in my wie-is-ek boks.


Maar ek kan nie help om te dink aan die eerste keer toe ek kon sien dat ánder vroue om my besig is om ouer te word nie. Nou ís ek die ander vrou!


Hierdie week lees ek Johannes 8 en twee goed staan vir my uit van Jesus se hantering van die vrou wat in owerspel betrap is.


Die eerste is die manier waarop Jesus hierdie ongevoelige, bedrieglike, veroordelende mense so saggies berispe.


En eintlik doen Hy nie eers dit nie.

Hy bly stil, skryf op die grond, en uiter uiteindelik net een sinnetjie.

Bly stil, skryf verder.

Dan laat Hy hulle gewetens toe om die skoffelwerk te doen.


Die tweede ding is hierdie:


“Jesus bent down and wrote with His finger in the dirt. They kept at Him, badgering Him.

He straightened up and said, ‘The sinless one among you, go first: Throw the stone.’

Bending down again, He wrote some more in the dirt.

Hearing that, they walked away, one after another,

beginning with the oldest.”

John 8:8 The Message


Wat my moed gee vir my gees, al is my vlees aan die verwelk.

Want dalk, net dalk, sal ‘n stuk regdenkendheid,

‘n stuk nederigheid,

‘n stuk empatie,

terugkom in hierdie lende

noudat hulle ouer is.


Dat ek sal wegdraai

eerder as om ‘n klip op te tel.

Dat my wegdraai

‘n ander een sal kry om weg te draai

eerder as om ‘n klip op te tel.


Die stamwoord vir nederigheid (“humility”) is afgelei van die woord vir grond – “humus”, leer ek vanoggend.


Ons is nie net grassade nie, Dosi,

ons is grond.

Ons almal is net grond.

Dit is net ons Skepper wat grond kan vat en ons net neffens minder as die engele kan maak.


My waarde lê nie in my grond nie.

Maar in Wie se Hande dit is.


Mag ek dit onthou as die klippe reg lê vir gooi.

Mag die ouderdom dan onbeskaamd inskop

en van my ‘n

engelmens

maak.



Jou inspirasie vir die week: Jesus People



bottom of page