My man kom terug van ‘n onverwagte reis Skotland toe, en van die baie goed wat hy met my deel is hierdie iets wat my bybly.
Hy vertel my dat hy besluit het dat hy al die engele wat elke dag oor sy pad kom om hom die rigting aan te wys of sy las ligter te maak deur saam te help dra aan wat dit ookal is wat van hom gevra word, dat hy hulle name gaan vra en hulle dan op die naam voor dankie sê.
En die name van die twee-hande-vol vir wie hy die laaste paar dae so kon dankie sê, onthou hy nou nog.
Selfs nog voor Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het, skryf digter en filosoof Voltaire reeds:
“Appreciation is a wonderful thing.
It makes what is excellent in others belong to us as well.”
Ek sit ‘n rukkie met hierdie een.
Rol dit rond soos een van ouma Max se pienk MUSK-sweeties…
Wanneer jy gewaardeer voel, is daar so baie dinge wat skielik nie meer saak maak nie.
Dit kan regtig jou hele uitsig op
‘n dag of
‘n week of
‘n hele lewe verander.
Maar wat selfs nog beter is, is dat dit binne jóú mag is om iemand se hele uitsig op
hulle dag of
hulle week of
hulle lewe te verander.
Al bly hulle dag vol uitdagings, hulle week vol probleme en hulle lewe ver van ‘n sprokie, kan jy met jou woorde mense bo-oor ander se moddervoete op hulle blinkgewaste kombuisvloer laat sien, hulle laat glo dat hulle lewe waarde het, dat hulle hier is vir ‘n rede, bloot deur hulle rol in jóú 24-uur te erken.
Hulle op die naam te noem.
Die heel wonderlikste daarvan is dat daar altyd ‘n bietjie van die parfuum wat jy op ander se dankie-sê-briefies spuit, op jou agterbly.
Die goeie wat aan jou gedoen word, het ‘n manier om die goeie wat jy doen, te beïnvloed.
Wanneer Paulus ons vertel van die blikkies op blikkies op blikkies vrugteslaai wat die Gees by ons los om oopgemaak te word soos wat ons sterker word in die geloof, meer vaardigheid met die blikoopmaker ontwikkel, voel dankbaarheid vir my soos daardie pienk kersie wat die geel en oranje pere en perskes sommer helderder en meer aanloklik laat vertoon!
Ons weet alle goeie gawes daal van die hemel neer.
Maar mag jy hierdie week ‘n oog ontwikkel vir die engel wat gestuur is om joune af te lewer en ‘n dankie werd is.
Op die naam.
“Be generous with the different things God gave you,
passing them around so all get in on it:
if words, let it be God’s words
if help, let it be God’s hearty help.
That way, God’s bright presence will be evident in everything through Jesus,
and He’ll get all the credit as the One mighty in everything—
encores to the end of time.
Oh, yes!”
1 Peter 4:10 The Message
Jou inspirasie vir die week: Thank you
Comments