Hartseer is ‘n groot hegpleister. Dit het die afgelope week se gebeure op ons eilandjie nou maar net weer gewys.
Politieke partye en koninklike afstammelinge kon vir ‘n wyle hulle verskille opsy sit en saam rou oor die einde van ‘n era en die verlies van ‘n geliefde tannie.
Wat my opgeval het, is dat ek toevallig op my foon moes sien wat vandag se datum is. Ander jare is ‘n mens oral oorval deur 9/11 herdenkings en herinnerings. En ek kan nie help om te dink dat wat ookal ‘n mens se huidige hartseer is nie, hierdie kant van die hemel sal daar altyd weer nog ‘n tragedie wees.
‘n Mens kan egter nie van tragedie tot tragedie leef nie, want dit is nie leef nie.
Dit is ‘n stadige dood.
En ons leer van die lewe deur te sien hoe ander lééf.
Vanoggend lees ek seker vir die honderdste keer in my 45 jaar Mattheus se weergawe van Jesus se kruisiging, maar vir die eerste keer sien ek hierdie raak:
“After Jesus’ resurrection, they (the believers that were raised from the graves)
left the tombs, entered the holy city, and
appeared to many.”
Mattheus 27:53 The Message
Ek kan my net indink watter skokkende prettigheid dit moes afgee!
Maar na al die suikerwater en trane en opvang met die nuus van die tyd, sou die werklikheid insink: Jy leef. En jy leef. En jy lééf!
Hoekom? Omdat jy en jy en jy en jy geglo het.
As dít nie ‘n inspirasie sou wees vir mense wat nog louwarm was nie, dan weet ek nie. Die kans om weer te leef, weer ‘n keer jou geliefdes te sien en hulle nabyheid te voel, die kans om weer ‘n keer in die strate te stap en deel te wees van die lewe…
Die kans om dalk ou foute reg te maak.
Ou koeie finaal te begrawe.
Ou seerplekke finaal te laat heelword.
Daar sal altyd nog ‘n tragedie wees.
Maar terwyl ons hier is, is die lewe wat ons as gelowiges elke dag leef nie net ‘n inspirasie vir die wat na ons kyk nie, maar ‘n kans vir ons om elke dag foute reg te maak, ou koeie te begrawe en ou seerplekke finaal te laat heelword.
Ek sien hierdie week ‘n advertensie vir ‘n tong-in-die-kies verjaardagkaartjie:
“Congratulations on another year of not being dead.”
Volgende jaar mag jy dalk wees en dit sal ‘n tragedie wees.
Maar vandag leef jy.
So lééf!
Jou inspirasie vir die week: This far
Comments