Onverwagte ontdekkings maak die lewe mos lekker! Toe ek hierdie week met Ester begin, het ‘n vooraf nota in my Contemporary English Version eerste my aandag getrek:
“The Hebrew text of the book Esther doesn’t mention God,
but the whole plot shows that God was protecting His people
by making Esther queen…”
Dit sal my goed doen om dit te onthou.
Veral op daardie dae dat die lewe my wil oorweldig.
Vrydagaand gebeur ‘n vreemde ding met my. (En hierdie sal nou die eerste keer wees dat my man ook daarvan hoor…)
Die dag was besig. Na ‘n week het my bankkaart uiteindelik by die huis opgedaag sodat ek kort na middagete my 30min ver kon haas na die selfoonwinkel waar ons ‘n knap mannetjie ontdek het met baie goeie aanbiedinge. Daar gekom, vat dit my ‘n verdere 1h30min om uiteindelik met twee fone daar uit te stap.
So mis ek die poskantoor se sluitingstyd, want die Road Tax moes betaal geword het, maar dis nou maar so. Teen ‘n volle 110km/h op die snelweg (hulle limiet) terug huistoe waar ek die pamflette vir Saterdag se groot perdeskou moes optel voor 17h00.
Nou is ek uitasem. Maar Katie voel nie lekker nie en sy moet veearts toe. Darem net 5 minute van ons huis af. Met Katie terug by die huis, moes ek die week se kruideniers gaan koop, want Saterdag is ek by die skou en die huis is leeg. En so in my kar oppad TESCO toe kan ek voel die lammigheid sit in my lende.
In by die winkel en nou moet ek kophou. As jy hier nie volgens ‘n begroting werk nie, loop jy jou sommer vinnig vas! Iets wat 75p kos klink dalk goedkoop, maar as jy jou somme reg maak, is dit amper R15,00! Soos menige SAFFAS voor ons, sal ons seker nog ‘n rukkie loop en somme maak… Dit beteken egter die hele inkopie is een van vat en neersit en uitwerk en soek en weer vat. So… kort anderkant 19h00 ry ek daar weg.
Die winkel is regtig net 5 minute van ons af en op hierdie spesifieke dag, is dit vir my ‘n wonderlike blessing. Want by die huis gestop wil ek eerste my handsak vat en die voordeur gaan oopmaak vir die groot uitpak. Handsak? Watter handsak??
Net daar word die Fordjie weer gestart, en ‘n spoegstreep terug gery TESCO toe. (Dalk bietjie vinniger as wat ek moes…). Ek het nie gewonder waar my handsak was nie – ek het geweet. Binne-in my waentjie wat ek so ewe ordentlik mooi op sy waentjieplek gaan bêre het.
Maar toe die stof gaan lê daar in die parkeerarea, sien ek dit is nie meer nie daar nie. En my eerste reaksie is: My paspoort, my Residence Permit, die paar rand, my bankkaarte…. Maar ek druk daai gedagte woes onder my arm in, weier om dit praattyd te gee, en storm die winkel binne.
Die sekuriteit tannie (regtig – sy kan my ouma wees) staan net by die deur.
“Yes, love. There, by the back counter. You can just ask for it. Found it in the trolley.”
Ek kry my handsak en nie een dingetjie is weg nie. Ek wil nog die tannie bedank, maar sy staan nie en wag vir lof nie, sy het waentjies om bymekaar te maak.
Buite die winkel sien ek haar en oorrompel die tannie met ‘n eg Suid-Afrikaanse drukkie. Sy lyk verward, maar ek kon sien sy waardeer dit.
En toe ek daar wegry, wonder ek: Sal ek stilbly oor hierdie glips van my? Hierdie oordeelsfout? Hierdie skaamkry oomblik? Hierdie soveelste-keer-tuisgemaakte-tameletjie?
Of sal ek praat daarvan sodat die Here die eer kan kry?
Dis nie die Here wat my handsak uit die waentjie gehaal en by die toonbank gaan ingee het nie.
Maar ek weet dat ek weet dat ek weet – “…the whole plot shows that God was protecting His people.”
Onverwags.
Onverdiend.
Jou temalied vir die week: There is none like you (LIVE AT THE TOWER OF DAVID)
https://www.youtube.com/watch?v=Qk5KHyEbDFc
Comments