Op 2 Augustus verskyn hierdie Whatsapp graffiti seker 20 keer op my foon:
A - Ask
U - Until
G - God
U - Unveils
S - Something
T - Tangible
Wie dit ookal uitgedink het, het sweerlikwaar die Heppells in gedagte gehad en sedertdien kry ek dit net nie uit my gedagtes nie. Wat seker 'n goeie ding is, want dit herinner my om aan te hou vra.
En om verder op die tema uit te bou, kom allerhande waarhede oor gebed ook in my rigting gedwarrel. Een daarvan, is hoekom dit nodig sou wees om te bid. As God dan die God van alles is en alles weet en alles beskik - watter verskil sal my gebed dan maak?
Maar ons bid in die eerste plek omdat ons Sy geliefde kinders is en Hy graag van ons wil hoor. Sefanja 3:17 sê nie verniet dat Hy jubel en juig oor ons nie! Soos enige pa wat sy kind se naam op sy selfoonskermpie sien, is Hy selfs nóg blyer as die stilte lank tussen ons gaan lê het.
En ons bid, want dit verdiep ons vertroue in die Here. Of ons gebede nou onmiddellik beantwoord word of nie. Dit is tog vreemd hoe dit werk. Volgens Fillipense 4:6,7 hoef ek net alles vir die Here te gee, nie meer daaroor te 'worry' nie, dankie sê dat Hy dit sal laat uitwerk soos wat Hy weet die beste vir my is... en Hy sal my Sy vrede gee. Klaar. Punt.
En ons bid, want dit dring ons om op God alleen te vertrou.
"Kyk op na die sterre in die lug.
Hy wat hulle gemaak het, laat hulle almal in die aand uitkom.
Hy ken elkeen van hulle se naam.
Met sy groot krag sorg Hy dat nie een van hulle wegraak nie."
Jesaja 40:26
Hy het nog nooit één sterretjie laat wegraak nie. En daar is miljuisende. En hulle name is nie eers in Sy handpalm gegraveer nie.
En ons bid, want dit gee ons 'n kans om net eerlik te wees. Oop. Met geen maskers, geen voorgee. Heeltemal ontbloot.
Daar is so baie dinge wat die Here van my weet wat nét die Here van my weet.
En so saam met die Psalmdigter verstaan ek dan as hy sê:
Net by God vind ek rus,
want op Hom vertrou ek.
Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting, sodat ek stewig staan.
God is my redding en my krag.
Hy is my rots, my sterkte,
God is my toevlug.
Psalm 62:6-8
En ons bid, want ons gebede beweeg die hart van God. Jakobus sê nou wel dat ons nie kry nie, want ons bid nie, maar Daniël en die engel is eintlik die een wat hier by my opkom.
In Daniël 10 lees ons hoedat hy verskriklik ontsteld was oor die oordeel wat die Here God oor die volk sou bring en hy het gebid en gevra vir 'n antwoord, 'n verduideliking.
Ons lees in Daniël 10:12 hoe die Engel van die Here dan met Daniël praat en sê:
“Daniël, jy moenie bang wees nie.
Van die eerste oomblik af dat jy begin bid het om hierdie dinge te probeer verstaan
en in nederigheid voor God gestaan het, is jou gebede al verhoor.
Ek is juis hier in antwoord op jou gebed..."
Van die eerste oomblik af dat Daniël begin bid het, in nederigheid begin bid het, is sy gebed al verhoor. Ons gebede laat God nie onaangeraak nie. Hoe en wanneer Hy sal reageer is sy prerogatief. Maar doof was Hy nog nooit nie.
En ons bid, want hoe 'n wonderlike manier is dit nie om betrokke te raak met alles waarmee ons God alreeds in hierdie wêreld besig is nie! Soveel keer kry ons die opdrag om vir mekaar te bid, vir die wêreld te bid. Ons kan beslis nie oral en alles vir almal wees nie. Maar ons kan bid.
Dis nou al amper mid-Augustus, maar elke dag is my oë opsoek na daardie tasbare antwoord op die vrae wat ek vra. Wetende dat dit dalk nie die antwoord sal wees wat ek wil hê nie.
Maar hoe erg kan dit wees? Ek is bloot oorgelewer aan die genade van 'n liefdevolle Vader.
Jou temalied vir die week: The Way
Comments