Toe Makazola Mapimpi daardie dag van die veld af is in die wedstryd teen Tonga, het ons nie die omvang van sy pyn besef nie. Op die oog af het die skade nie te erg gelyk nie.
Eers later sou ons hoor dat hy ‘n fraktuur in sy wangbeen en oogkas opgedoen het, en dat hy nie verder aan die Wêreldbeker sou deelneem nie.
Hy was nou op ‘n ander plek as die res van sy span.
Sy seer was baie erg, en baie werklik!
So baie mense om ons verlaat die veld terwyl die wedstryd nog aan die gang is, sonder dat ons mooi besef wat besig is om te gebeur.
Ons leef elke dag met hulle saam en sien hulle in en uit ons nabyheid beweeg, maar ons besef nie altyd dat hulle pyn hulle verplaas het nie.
Daardie pyn waarvan slegs hulle weet, en wat nie op die oog af vir die res van ons sigbaar is nie.
Hulle verdwyn dalk heeltemal uit ons raakkring uit, of dalk onttrek hulle hulself bloot emosioneel.
Ons eie lewens is so dol en so vol en dit is maklik om ‘n leë teenwoordigheid te mis.
Facebook en Instagram en TikTok en Twitter vra in hierdie era waarin ons leef dat almal se pyn, oral, ook ons eie word.
Maar vir ons menslike kapasiteit is dit net te veel.
Soms het ons nodig om die Gees te vra om ons bewus te maak van daardie één se seer, daardie één se opmerklike of onbewuste afwesigheid, en ons dan die empatie, tyd en bereidheid te gee om saam in daardie één se pynbubble te klim.
Wanneer ‘n mens in ‘n ander een se pynbubble klim, vra dit van jou om die doring in jou eie vlees eers met ‘n pleister te bedek (vir nou) – jy wil nie die bubble bars nie.
En dít vra groot nederigheid.
Soms hou die Here ons nederig met ons eie einas, vat Hy ons na plekke toe waar ons nie wou wees nie, maar waar dit vir ons goed is om te wees.
En soms vra Hy van ons genoeg nederigheid om saam met iemand te sit in die plek waar húlle nooit gedroom het om te wees nie.
Nie om alles reg te maak nie.
Maar om ‘n tasbare vervulling van Sy belofte van liefdevolle nabyheid te wees.
Daardie keer toe Jesus vroegoggend op die strand aan die dissipels verskyn het, is so ‘n voorbeeld.
Hulle harte was seer, hulle Here was weg en hulle het nog nie geweet hoe die pad vorentoe gaan lyk nie.
Maar op daardie mooi oggend, op daardie oomblik, was hulle mees voor die hand liggende behoefte ontbyt.
En ontbyt was wat Jesus vir hulle gegee het.
Ons hoef nie al die teologies korrekte antwoorde te hê in iemand anders se pynbubble nie.
Ons kan bloot hemelse kelners wees.
“If you get rid of unfair practices,
quit blaming victims,
quit gossiping about other people’s sins,
If you are generous with the hungry
and start giving yourselves to the down-and-out,
Your lives will begin to glow in the darkness,
your shadowed lives will be bathed in sunlight.
I will always show you where to go.
I’ll give you a full life in the emptiest of places…”
Isaiah 58:9b The Message
Jou inspirasie vir die week: Here’s my surrender
Comentarios