Met ons Groot Trek oor bietjie meer as 7 weke, is huis-soek nogal hoog op my agenda. En met baie spesifieke riglyne om manlief en Katie (ons 7-jarige wit-en-swart-langhaar-vierbeen-meisiekind) gelukkig te hou, sal enige ou plekkie ook nou nie juis doen nie.
Nie dat hulle versoeke onredelik is nie: maklike toegang tot openbare vervoer vir my Kroon, en ‘n lekker hardlooptuin vir haar. Genoeg spasie vir my om van die huis af te werk en darem in ‘n area waar ons kan gaan stap sonder om gedurig oor ons skouer te loer.
Sien? Niks vreeslik opstêrs nie.
Noem daarmee saam dat ons eintlik niks met ons saamvat nie – net so ‘n handjievol bokse wat oor ‘n maand of drie met die skip sal kom – dan begin ons eintlik van heel voor af.
Vir sommige klink dit dalk net té erg. Vir ons was dit eintlik wonderlik bevrydend! Jare se boeke en aandenkings en klere wat ons nog weer sal dra, trek op trek op trek dieselfde boks vol niks van belang nie. Weke, maande, jare se papiere en feite en onthoue lê uitgestrooi op die spaarkamer se bed en ons gooi weg. Eers huiwerend en dan met al hoe meer flair! En met elke stukkie van die verlede wat sy weg vind na ‘n oopbek swartsak toe, raak ek ligter.
Besef ek hoe min ons eintlik nodig het.
Daar is spesifieke oomblikke wat nie swartsak toe gaan nie. Meeste van hulle het te doen met die wat nie meer hier is nie, want in my nugtere denke weet ek dat ek nooit nuwe onthoue saam met hulle sal kan maak nie. Ek weet ek moet daar ook ‘n besluit maak – ons kan nie álles saamvat nie. Maar nie vandag nie.
Die ander onthoue is daar waar die Here my baie spesifiek kom ontmoet het. Van alles wat ek nie wil vergeet nie, is daai die heel, heel kosbaarste. Tog weet ek dat aardse herinnering daaraan verroes en mot dit sal verniel as dit nie in my binneste gekoester en bewaar en uitgehaal en afgestof en gepoets en weer mooi gebêre word vir volgende keer se uithaal en vir iemand wys nie.
“The place where prayer was offered and answered never seems
to lose its hallowing associations.
Our lives, indeed, ought to be full of consecrated spots,
where we have raised, again and again,
our pillars inscribing thereon: ‘hitherto hath the Lord helped us!’ “
Robert Tuck
Hoe geseënd is ons nie om so baie van daardie plekke te hê nie! En jy het dit ook, weet jy? Dalk is jou rememberer bietjie broke, maar as jy die Here vra om jou te herinner, glo ek dat Hy jou op ‘n reis sal vat langs al die beantwoorde gebede op jou pad tot hiertoe.
Nes ‘n Pa ons veilig huistoe lei.
“ ‘My Vader het ’n huis. Daar is meer as genoeg plek vir julle almal. Ek gaan om vir julle daar plek reg te maak. Dink julle een oomblik Ek sou dit gesê het as dit nie so was nie?
As Ek alles vir julle reggekry het, kom Ek julle haal om by My te wees.
Waar Ek is, sal julle dan ook wees.
Julle weet eintlik goed waarheen Ek gaan en hoe om daar te kom.’
‘Met alle respek, Here,’ sê Tomas, ‘ons ken nie eens die adres waarheen U gaan nie.
Hoe op aarde sal ons dan weet watter pad om te vat?’
Jesus sê toe: ‘Laat Ek dit so stel: Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ’n ander pad loop,
sal hy nooit by my Vader uitkom nie.’ “
Johannes 14:2-6 Die Boodskap
Eintlik moet ons maar net Jesus se hand vat, maak nie saak op watter pad Hy ons lei nie. Dít is geloof. Dít is hoop. Die wete dat die Een wat ons hand vat wanneer ons deur die vuur van hierdie lewe moet loop, die pad ken na die poel van Ewige Lewe.
Moenie moeg word vir die reis nie.
Vat net die nodigste saam.
Hy is eintlik ál wat jy nodig het.
Jou temalied vir die week: Days gone by
Comments