“If the world is upside down
and I am upside down,
everything looks
right side up.”
Ed Young
As twee-naweke-‘n-maand ouers was dit altyd vir my man ‘n groot ding om die kinders maksimum pret in die minimum tyd te bied! In Pretoria was dit maar van die glanserige aard… en nie naastenby so vuil as toe ons eers later jare in Delmas gebly het nie.
Waar hy en die twee kinders vir ure kon wegraak op sy quad tussen die rooigrond plaaspaaie buite die dorp, moes Menlyn Park se roltrappe en muntvretende speletjiesplek aanvanklik daardie rol vervul.
Reevan Lekkerlag het ons hom toe ook sommer gedoop op een van daardie uitstappies. Hy was nog nie eers in die skool nie, maar die “Mole Buster” was vir sy pa se jongste ‘n groot treffer.
Nes daai mol sy kop uitsteek, timmer Reevies hom terug en lag dan so, dat hy skaars kan sien waar die nuwe een uitspring.
My analogie moet dalk nie te ver gaan nie, maar verdra my net vir so ‘n rukkie…
In ‘n wêreld waar COVID en armoede en verwaarlosing en vereensaming en vrees dreig om elke Christen wat sy kop uitsteek terug in sy gaatjie te foeter, is dit ‘n wonderlike troos om steeds te sien hoedat Christene aanhou om die kans te vat.
Solank die munte vol bly en die uurglas loop, bly die mol braaf.
Solank die geliefdes van die Here se siel vol bly en daar nog tyd oor is, behoort ons dapper en gereed en ewe vol lewe uit ons gate te spring – veral in ‘n tyd soos hierdie.
Sommige mense voel egter te skuldig… om watter rede ookal.
Sommige mense voel net nie toegerus genoeg nie.
Sommige mense voel net te oorweldig.
Hoe bemoedig mens iemand wat voel hulle laaste deuntjie het reeds gespeel?
Wat met hulle dankie-dat-jy-gespeel-het-kaartjies in die hand staan?
“Everyone in Israel and Judah
is guilty.
But I, the Lord All-Powerful,
their holy God,
have not abondened them.”
Jeremiah 51:5 CEV
But.
But…
Snaaks hoeveel meer positief hierdie voegwoord klink wanneer die Here dit gebruik!
As Christen-molle het dit tyd geword om relentless te wees in ons uitwys van die Here se alternatief.
Elke keer as die wêreld ons oor die kop tik met hulle moedelose vrae na die sin van die lewe, is dit ons werk om op te spring en hulle te wys.
Of as hulle ons aanval met knopkieries en woordspiese, is dit ons werk om roekeloos uit te hardloop en waarheid en liefde te confetti-strooi soos ‘n vyfjarige by ‘n plaastroue.
Ja, jy sal gemartel word in hierdie wêreld.
Maar as jou tenk vol bly
en jou uurglas nog loop
is dit wat van jou gevra word.
COVID-Christene. Is daar so ‘n ding?
Ek sal wil sien dat dit ‘n ding word.
Oral waar jy kyk…
ten spyte van.
Ek wil deel van so ‘n ding wees.
Jou weeklikse inspirasie: Here with me
Comments