In Back to the Future bevind Marty McFly, ‘n tipiese 1980’s-tiener in Kalifornië, homself in ‘n geflopte tydsreis eksperiment deur sy goeie vriend, Doc Brown. Hy reis terug na die 1950’s en moet seker maak sy ma en pa ontmoet mekaar en raak verlief, anders sal daar nooit ‘n Marty McFly wees nie!
Dit is altyd die groot vrees van die karakters wat deur tyd kan reis: Dat hulle gebeure in die verlede so sal beïnvloed dat die toekoms waarvan hulle deel is, onherkenbaar anders daar uitdraai. As so iets moontlik was, verstaan ek nogal hulle benoudheid!
Maar dink ons ooit daaraan hoeveel mag ons het om met ons vandag die toekoms van môre te beïnvloed?
In 2 Samuel 23 lees ons van Dawid se Drie, daardie dapperste van sy soldate. Onder hulle was Samma. Die storie wat ons nou, feitlik 3,000 jaar later lees, is hoedat Samma op ‘n dag gekies het om ‘n land vol lensies eiehandig te verdedig, en dan lees ons, “die Here het so vir die Israeliete ‘n groot slag geslaan.”
‘n Land vol lensies.
Op die oog af waardeloos.
Een man se moed.
‘n Hele volk word geseën.
Wat presies dit behels het, lees ons nie, maar Samma se keuse daardie dag het ‘n hele volk se môre’s geraak.
Maar die toekoms word nie net geraak deur groot oorwinnings en veldslae nie.
Ons lees ook van klein tekens van naasteliefde wat weergalm ver in die toekoms in…
Toe Farao se dogter Moses se mandjie uit die rivier gehaal het daardie dag en besluit het om die piepklein babatjie as haar eie groot te maak, het sy die toekoms van ‘n hele volk geraak.
Ek besef vandag dat dit nie altyd nodig is om op te staan en vir Jesus te bloei nie.
Soms vra Hy bloot dat ons op sal staan en vir Hom lief sal hê.
Hy vra bloot dat ons die volgende regte ding sal doen.
Wat ís die regte ding?
“Love one another the way I loved you.
This is the very best way to love.”
John 15:12 The Message
Dit wat my naaste se toekoms beter sal maak.
En my naaste is oral.
In die verkeer,
in my personeelkamer,
in my scrapbooking klas,
in my kombuis,
in my oopplan kantoor,
in my straat,
in my bus,
in my kerk.
Wat kan ék vandag doen om my naaste se toekoms beter te maak?
Bloei as dit moet.
Wees lief as ‘n reël.
Jou inspirasie vir die week: Things of heaven
Comments