top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Saadjies van lewe

Updated: Feb 4, 2023




Ek stap nou deur Mattheus. Dit gaan maar stadig. Nie omdat ek ‘n stadige stapper is nie, maar omdat daar soveel langs die pad is om in te neem.


En ek leer.


Ek leer dat die Heilige Gees soveel meer is as ‘n Skepper.

Hy is die Meester Opknapper.


Hy het nie net gekom om nuwe mense met nuwe idees en nuwe gewoontes te skep nie.

Hy het ook gekom om mense ‘n nuwe verstaan en siening te gee oor bestaande gewoontes, instellings, verhoudings, werksomstandighede.


Ek leer dat ‘n nuwe mens nie nuwe are nodig het nie.

Net nuwe Bloed, met nuwe Lewe.


En vir my is dit weereens ‘n terugwysing na geestelike volwassenheid. Wanneer ‘n mens eers jou lewe totaal in Sy hande oorgee, is jou eerste instink om drasties te begin snoei aan jou alledaagse omgewing.


Vir ‘n handjievol van die geroepenes, is dit inderdaad wat God van hulle vereis.

Vir die res van ons, vra dit ‘n meer subtiele verandering soos wat ons geloof groei.

Nie soseer in daad nie, maar eerder in gevoel.


Dit vra ‘n verandering van ingesteldheid teenoor my huidige omstandighede, my verhoudings, my alledaagse.


Jesus vertel in Mattheus 13 van die klein paar duwweltjies wat die koringlande so vervuil het. Maar kort daarna vertel Hy in dieselfde trant:


“Hy het ook die volgende gelykenis vir hulle vertel: ‘God se koningsheerskappy is soos suurdeeg wat ’n vrou gebruik het om brood te bak. Al het sy net ’n bietjie suurdeeg in ’n groot baksel meel ingewerk, het dit uiteindelik alles deursuur.’ “

Mattheus 13:33 NLV



Ek is genooi om vir die eerste keer die boodskap in Ingels te bring by ons eie Newbury Baptist Church vandag. Maar net gister, by ‘n werksfunksie, moes ek hoor hoedat ‘n sekere persoon se nuwe Suid-Afrikaanse vriendin ook nog steeds ‘n Suid-Afrikaanse aksent het, maar nie so erg soos myne nie.


Sou ek nou daardie duwweltjie met geweld wou uittrek, het ek myself dalk verskoon van vanoggend se boodskap en eerder stil gebly.


Maar ek het nie, en ek is geseën met ‘n wonderlike, warm ontvangs en dalk ‘n paar nuwe vriendinne ook.


Ons eie Ds. Richard Littledale het verlede naweek sy uittreepreek gelewer voordat hy sy aftrede in Wallis begin.


Hy het ons gemeente gelos met die eggo van ‘n klomp wysheid, maar hierdie een sluit vir my aan:


“Never underestimate the power of your words to wound or to heal.

Your one word of encouragement could bring sunshine after many a long day of cloud. Equally, your harsh word could tip the porcelain vase of someone’s self confidence

off the shelf, where it will smash to the ground below.

All it took was the right words from the right person to create a living, breathing,

growing wonder of a planet.

They still carry that power.”


Wanneer ons groei en nuwe sienings kry oor ou wonde en nuwe bedreigings, maak Hy ons Super Sterkte Suurdeeg vir hierdie dooie wêreld vol pyn.


Hy gee ons nie noodwendig nuwe plantlande nie.

Hy prop ons woordsaadjies vol nuwe lewe om te saai oral in die ou lande om ons.


Jou inspirasie vir die week: Awestruck



bottom of page