My nuwe gunsteling Kersverhaal ontdek ek hierdie jaar in The Message vertaling:
“The Word became flesh and blood,
and moved into the neighborhood.”
John 1:14
Ons is nou maar skaars twee weke in ons nuwe plekkie en ontdek nog die area. Waarheen manlief kan stap om hare te sny, waar ons naaste dokters is (hier is hulle baie streng buurtgebonde), waar ons die mooi natuur om ons kan verken met Katie, waar ek vinnig kan stop oppad terug van die werk af vir die nodigste.
Die straatjie waarin ons bly het net so nege huisies, twee-twee voordeure langs mekaar staangemaak, so die kans dat jy jou bure te sien sal kry, is nogal goed! Ons is aangenaam verras deur die vriendelikheid van almal wat ons nou al op ‘n laaste-Katie-piepie-vir-die-aand of ‘n vroegoggend-kar-ontvries-oefening raakgeloop het.
Wat my spesifiek vandag laat dink aan hierdie woorde van Johannes.
As Jesus in my leef en ek in Hom, sal die wêreld weet as Hy in hulle straat ingetrek het?
Sal mense weet as Jesus by hulle klub begin tennis speel?
Sal mense weet as hulle Jesus by CHECKERS raakloop?
Sal mense weet as Jesus hulle petrol ingooi?
Sal mense weet dit is Jesus wat hulle kleintjies so mooi leer?
Sal mense weet Jesus werk nou by die poskantoor?
Sal mense weet Jesus is ‘n haarkapper?
Sal mense weet dat dit Jesus is wat saam met hulle in die lang tou by die Munisipaliteit staan?
Sal mense weet…?
Baie jare gelede het ek al ‘n tattoo op my ringvinger gekry: GRACE. Want ek vergeet.
Van al die genade wat my omring.
Wat my raakgesien het toe ek nog ver weg was.
Ringvinger of nie, ek vergeet nog steeds, en dan verdof Jesus binne-in my.
Dat ek self moet wonder: Sal mense weet…?
Een ding is ek vandag voor dankbaar, saam met die wonder van baba Christus in ‘n Koninggrootte krip, en dit is die tydige en ontydige shoulder taps van die Heilige Gees.
Want dit is juis wanneer ek begin wonder, dat my kop gelig word weg van my eie brandnetels en klitsgras in die wolsokkies en ek herinner word aan ‘n wêreld daarbuite.
Daar… buite.
Daar is ‘n hele wêreld in my straat.
Maar daar is ook ‘n hele wêreld in my kantoor,
in my bus,
in my trein,
in my taxi,
‘n hele wêreld in my foon.
En hulle wag om te hoor…
Skrap dit.
Hulle het al gehoor.
Al baie.
Elke jaar.
Hulle wag om te sien en te belééf: Die Koning is hier…
Jou inspirasie vir die week: Only You
ความคิดเห็น