top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Self is nie 'n werkwoord nie


“Dit is onrusbarend om te sien hoeveel kinders vandag in lewensgevaar verkeer,” hoor ek nou-die-dag en my aandag is onmiddellik getrek. Mens hoor regtig van verskriklike goed deesdae.


“Veral die een wat nou-net sy oë vir my gerol het…”


Want “sélf” het mos ‘n werkwoord geword. Maak nie saak of jy voor jou siel weet hierdie ding stuur af op ‘n katastrofe nie, as sussie-lief of boetietjie-bul eers hulle koppe op ‘n ding gesit het, dan is dit nou maar so.


G’n wonder die vertaler van Amazing Grace staan ‘n hele versie hieraan af nie:


Ek is die naam van kind nie werd wou self my sake reël. My lewe, kanse, tyd en geld is nutteloos verspeel.


Wanneer jonger mense dit wil doen, is ons sommer gou om tereg te wys. Maar ons vergeet so maklik ons eie geneigdheid daartoe.


Jare lank het ek myself gekasty omdat ek gemeen het dat ek éérs my lewe in orde moes kry – sélf – voordat ek na die Here toe kon gaan. En was dit nou ‘n gesukkel! Nes ek dink ek het die een duiwel onder beheer, dan steek ‘n ander een sy kop uit en so voel dit vir my ek loop eintlik agteruit agter die Here aan.


Nog ‘n ding: wanneer “sélf” ‘n werkwoord word, loop die moeilikheid sommer hand-aan-hand saam voel dit vir my. Kyk nou maar na die Israeliete. Selfs met hulle beste intensies!


Ons lees in Numeri hoe mooi die Here hulle gelei het deur die woestyn: ‘n Wolkkolom in die dag met ‘n vuur daarbinne in die nag. Aan die einde van Numeri 9 lees ons dat die volk moes bly wanneer die wolk bly en moes beweeg wanneer die wolk beweeg. Nie sélf nie.


En dit gaan goed. Vir so ‘n ruk. Soos wat maar hulle gewoonte was, het dit nie lank gevat vir hulle opstandigheid om weer te begin nie, en hulle gaan sover om te sê dat Moses en Aäron hulle eerder in Egipte of sommer net daar in die woestyn moes laat sterf. (Ondankbare klein twakke, kom by my op.)


Selfs die Here God het genoeg gehad daarvan:


“The Lord told Moses and Aaron to give this message to the people of Israel:

‘You sinful people have complained against me too many times! Now I swear by my own life that I will give you exactly what you wanted. You will die right here in the desert, and your dead bodies will cover the ground. You have insulted me, and none of you men who are over 20 years old will enter the land that I solemnly promised to give you as your own…’ “

Num 14:26-30 CEV


Hierna sou ‘n mens dink dat hulle hulle les sou leer, maar nee. Die Israeliete voel toe baie sleg en wou dinge met die Here regmaak. So vroeg die volgende oggend besluit hulle toe om sélf oor te skuif Kanaän toe (wat ek glad nie verstaan nie). Moses waarsku hulle, maar tevergeefs.


But the Israelites ignored Moses and marched toward the hill country,

even though the sacred chest and Moses did not go with them.

The Amalekites and the Canaanites came down from the hill country,

defeated the Israelites, and chased them as far as the town of Hormah.

Num 14:44,45 CEV


So stry ek ook my eie stryd met “sélf” en selfhelpboeke en selfverbeteringskursusse tot ek besef dat daar ‘n rede is hoekom Paulus praat van die vrug van die Heilige Gees en nie die saad van die Gees nie.


“Die dinge wat ons sondige geaardheid ons laat doen, is bekend…

… Maar die vrug wat die Gees voortbring, is:

liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,

sagmoedigheid en selfbeheersing.

Gal 5:19-23 NLV


Die vrug WAT DIE GEES voortbring.


En so maak ek myself verniet moeg. Probeer ek vergeefs op die lang termyn en in waarheid


§ liefhê sonder grense,

§ vreugde hê in moeilike omstandighede,

§ vrede bring waar die gemoedere hoog loop,

§ geduld hê heeeeeel agter in die ry,

§ vriendelik wees met die grompot agter die toonbank,

§ goed wees vir die een wie se mes kort duskant my derde rugwerwel sit,

§ getrou doen wat ek gesê het ek sal doen,

§ sagmoedig wees wanneer ek aangeval word, en

§ myself beheer wanneer ek eintlik wil moord pleeg.


Want dit is net die Gees van God binne-in my wat dit kan doen. Ek hoef toe nou nie beter te wees nie. Ek moet net bereid wees om my te laat verander. Dan sal die goeie vrugte vanself kom.


“We have everything we need to live a life that pleases God.”

2 Pet 1:3 CEV


Elke keer as ek aan die gedeelte dink, dan sien ek in my gedagtes so ‘n groot geskenkboks met ‘n yslike rooi lint om wat daar in die hemel se voorportaal staan. En op die boks staan: MAXIE SE LIEFDE – wanneer ek sukkel om my huismense lief te hê. En langs daai boks, staan nog ‘n boks: MAXIE SE VREUGDE – wanneer my dag lank is en my probleme baie.


Sien, so staan alles reeds daar vir my en wag. ALLES wat ek nodig het om ‘n lewe te leef wat vir God aanneembaar is, is reeds vir my opsy gesit. Ek moet dit bloot opeis.


Here,

U weet my geloof is min as ek sien hoe die diere ly.

Gee my asseblief meer geloof.

Here,

Ek sukkel om te vergeet wanneer mense my seermaak.

Gee my asseblief ‘n ekstra groot boks goedheid wat ek aan hulle kan uitdeel.


Hy het dit reeds vir jou belowe, dit is reeds joune. Jy hoef nie sélf bloot maar net te probeer nie.


“Sélf” is nie ‘n werkwoord nie.




Jou temalied vir die week: God I look to you



Comments


bottom of page