Ons het in Suid-Afrika begin om The A-Word te kyk: ‘n Engelse reeks oor ‘n doodgewone familie met ‘n outistiese seuntjie en hulle daaglikse plesiere en uitdagings. Groot was ons lekkerkry toe ons verlede week sien ons kan nou verder kyk hier in die UK!
Dit is nie ‘n "Christelike" storie nie, maar ‘n storie oor menswees. Aan die een kant is daar verkeerde verhoudings en egskeiding en tienerswangerskap. Maar aan die ander kant is daar ouers wat alles sal doen vir hulle kinders, ‘n sussie wat haar hele lewe sal opgee vir haar boetie, ‘n seun wat alles sal doen vir sy pa se aanvaarding en jy kan nie help om hulle belewenisse met groot empatie te deel nie.
Maar een ding ontbreek: ‘n verhouding met die Here.
Ek kan nie help om te wonder hoe anders dit sou wees as
Joe (die outistiese seuntjie),
Paul (Joe se pa wat ‘n middeljare-krisis gehad het),
Alison (Joe se ma wat aanvanklik gesukkel het om Joe te aanvaar nes hy is),
Rebecca (Joe se sussie wat eerder haar toekoms sou opgee as om haar boetie te sien ly),
Eddie (Joe se oom wat net sy pa se aanvaarding en liefde soek) en
Morris (Joe se oupa wat reguit praat, maar ‘n klein hartjie het)
‘n God gehad het om by te sit en te huil en hulle magdom vrae te vra.
Want hierdie is goeie mense. Jy vind jouself aan hulle kant as die kaarthuisie inmekaar begin tuimel.
Tog is dit nie goed genoeg nie. Goeie mense is nie noodwendig Godsmense nie.
Net omdat jy ‘n goeie hart het, beteken nie jy het eens op ‘n tyd ‘n definitiewe keuse gemaak om vir die res van jou lewe ‘n volgeling van Christus te wees nie. En dit is die goedste goeie ding wat jy ooit kan doen.
Goeie mense se werk handel dikwels oor die hier en nou en dan raak hulle moeg en uitgeput en depressief wanneer die resultate nie weer die fles goedgeit in hulle hervul nie.
En al hulle goeie gebare, bou geen brug hemel toe nie.
Godsmense se arbeid het gewoonlik ‘n ewigheidswaarde en die wonder daarvan is dat dit, nes die weduwee se kruik, nooit ophou om ons te bemoedig in die stryd nie.
“I’m completely worn out;
my time has been wasted.
BUT I did it for the Lord God,
and He will reward me.”
“This is what the Lord says:
‘…I have chosen you
to take My promise of hope
to other nations.’ ”
“You won’t be disappointed
if you trust Me.”
“The Lord God gives me
the right words
to encourage the weary.”
“So I refuse to give up,
because I know
God will never let me down.”
Isaiah 49-50 (various) CEV
Om ‘n goeie mens te wees, kan uitputtend raak.
Die wêreld sal van jou vat wat jy bereid is om te gee, en goeie mense is lief om te gee. Die wêreld maak egter geen belofte dat jy in maat sal ontvang wat jy gedeel het nie.
Maar om ‘n Godsmens te wees, verander ‘n-soms-sukkelende fonteintjie. Want ja, takkies en blaartjies van hierdie wêreld verstop soms ‘n borrelende oog. Tog kan jy weet dat daar altyd ‘n Groter Hand sal wees wat in Sy tyd die puin (en die pyn) sal wegvee, sodat die fontein weer sonder terughou kan uitdeel.
As jou borrel vandag maar laag lê, hoop ek jy weet Hy weet. Hy weet… alles.
Wanneer die kaarthuisie inmekaar begin tuimel, kyk maar rond. Die Goeie God bly aan jou kant.
Nooi juis dán die goeie mense na jou tafel, al lê die kaarte oral rond.
Hulle het nodig om te sien dat die Goeie God steeds goed bly,
selfs al gee die mure in.
Jou temalied vir die week: You don’t forget
Comments