Ek lees in die week ‘n oulike plakkaat vir enkellopende dames oor waarvoor om te soek in ‘n goeie man. Daar was verskeie dinge wat my opgeval het, maar hierdie een het vasgesteek:
Daardie man wat ‘n los klip op die wandelpad sal wegskop sodat die wat agterna kom, nie per ongeluk daaroor struikel nie.
Dit het my gedagtes ver draaie laat maak.
Nie net omdat ek weet dat ek so ‘n man gekry het nie, maar omdat dit ook die fokus verskuif van my, na goed wat buite myself en my gemaksone gebeur.
Veral wanneer ‘n mens valleitye beleef, verg dit ekstra moeite en inspanning om waarlik en vrywilliglik in ‘n ander se skoene te klim.
En dit is bloot die sienlike.
Wat nog moeiliker is, is om vas te hou aan jou roeping wanneer die wêreld en al sy moegoes jou probeer verhinder.
Want dit is waar die insigbare oorlog gebeur.
Elke keer dat jy jou roeping neersit en iets anders optel, gebeur daar iets in die geestelike ruimte en ons het geen idee hoe ver die gevolge uitkring nie.
Terselfdertyd, elke keer dat ons stapmoedig in die rigting van ons roeping koershou, gebeur daar iets in die geestelike ruimte en ons het geen idee hoe ver die gevolge uitkring nie.
LaBryant Friend van die Belong Church spreek hierdie vandag tot diep in my hart:
“What would have happened if Jesus went back to working with wood,
instead of hanging on it?”
Jesus verduidelik dit so aan Johannes en die ander dissipels:
“Julle het Mý nie gekies nie. Dit was Ek wat julle gekies het.
En Ek het julle met ’n doel gekies: julle moet ’n vrugbare lewe vir God gaan leef.
Ja, julle moet ’n permanente verskil in hierdie wêreld gaan maak.
Vra God om julle daarmee te help en Hy sal dit doen.
Onthou wat die verskil maak: julle moet mekaar liefhê.”
Johannes 15:16 NLV
Net omdat die dissipels elke dag, die hele dag, saam met Jesus was, het nie beteken dat Hy vir hulle elkeen ‘n uitwerkte roepingskaart in die hand gestop het nie.
Hulle het ook maar nie ‘n clue gehad nie.
Al wat hulle in daardie oomblik gehoor het, was dat hulle moes vrug dra.
Jesus eindig met die vrug van liefde, Paulus begin daarmee:
“Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.”
Galasiërs 5:22 NLV
Persoonlik verkies ek die uitgebreide weergawe van The Message vertaling:
“But what happens when we live God’s way?
He brings gifts into our lives, much the same way that fruit appears in an orchard—things like affection for others, exuberance about life, serenity.
We develop a willingness to stick with things, a sense of compassion in the heart, and a conviction that a basic holiness permeates things and people.
We find ourselves involved in loyal commitments, not needing to force our way in life,
able to marshal and direct our energies wisely.”
Ek mag dalk nie stap twee tot tien hê vir die storie wat my lewe veronderstel is om te loop nie.
Maar stap een is om vrug te dra waar ek nou is.
En daar staan geskrywe dat wanneer ek doen wat God wil hê ek moet doen, al is my visie ook hóé beperk, sal Hy vir my al die ander dinge ook gee – ook die uiteindelike openbaring van my roeping op aarde.
Of my vrede oor Sy stilte daaroor.
Jou inspirasie vir die week: Reason to praise
Comments