top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Sielsixpack


So twee weke gelede plaas ek hierdie gedagte van Brianna Wiest op Facebook:


One day, the mountain that is in front of you will be so far behind you,

it will barely be visible in the distance.

But the person you become in learning to get over it?

That will stay with you forever.

And that is the point of the mountain.


Gister sien ek eers dat hierdie wysheid toe 45 keer van my blad gedeel is en dit laat my dink:


So baie van ons het berge wat onoorkombaar lyk.

So baie van ons wil glo dat dit eendag net ‘n vae gedagte sal wees.

So baie van ons wonder of ons dieselfde aan die anderkant sal uitkom.

So baie van ons besef nie dat dit nooit die doel van die oefening was nie.


So hard en so moeilik en so seer as wat groei soms kan wees, net so nodig is dit as ons regtig aan die ander kant van die berg mense wil aanspoor en bemoedig wat self voor hulle eie Tafelberg staan.


Want net hulle wat die reus in die oë kon kyk en (soms) hande-viervoet teen die steiltes uit, soms drie treë vorentoe en weer twee treë terug, moeg en moedeloos op ‘n blaaskans-lysie kon tweede wind kry vir die res van die trek boontoe, wat stukkende knieë en flenter vingers uiteindelik op die hoogste piek kon staan en terugkyk vanwaar hulle gekom het… net hulle kan werklik die wegtrekkers onder in die vallei aanspoor.


Net hulle sal kan vertel van die oneindige vistas wat ‘n mens gewaar wanneer jy bo aankom, hoe naby die hemel voel en hoe ver die swaarkry wat jou deel is terwyl jy klim.


Net hulle sal met glinsterende oë kan vertel hoeveel makliker die afdraende aan die sonkant van die berg is, omdat jy kan onthou hoe donker dit eens was.


Asaf lê sy woorde so mooi in my mond in Psalm 73: 16…


“It was hard for me to understand all this!

Then I went to your temple…”


Want as hulle aanhou stap op hierdie pad, en die berg lê al hoe kleiner en blouer ver agter hulle, word die woorde wat hulle gebruik geler en geiler en dra dit soveel water vir elke dorstige bergklimmer langs die pad. Waar ander se oë dof geraak het, kan hierdie Oorkommers vertel hoedat ‘n Klipsteen Vonk ‘n hele nag se geselskap optower, die skadu’s minder angswekkend maak, en gedagtes aan môre se ligdag sommer vorentoe bring.


Vir jou, Oorkommer, wil ek ‘n klop op die skouer gee.


Dit was dalk nie die laaste berg wat jy op jou pad sal vind nie, maar elke blou een wat agterbly, gee jou kuitspiere nog ‘n knop, jou sielsixpack nog ‘n riffie en jou omgee vir ander klimmers nog ‘n armvol uitdeelblomme.


Weet jy hoe ver jy gekom het?


So min as wat ‘n mens wil onthou, so nodig is dit om inventaris te neem van wie jy eens was en watter skatkis jy nou saam met jou dra. Want jou onthou maak ander se dagboekinskrywings op hulle pad minder donker, meer hoopvol en sommer ‘n klomp bladsye vetter!


Die blou van onthou hoef nie ‘n studie in weemoed te wees nie.

Dit kan uitbundige waterverfspatsels op ‘n andersins vaalwit doek wees.


Ons was nooit bedoel om vaalwit deur die lewe te gaan nie.



Jou temalied vir die week: I speak Jesus

https://www.youtube.com/watch?v=FpGYImM_VeM

Comments


bottom of page