top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Skarrel, skarrel...


Ons het ‘n oulike tv hier in die UK gekoop met ‘n heel kletserige Engelse-antie stem. Dit help my man so baie met dit wat sy bietjie sig nie kan doen nie! Tog is tv-kyk in ons huis nie vir ander mense seker veel pret nie. Soos die storie ontvou is ek soos die veldore wat saggies probeer inkry wat op die skerm gebeur terwyl nie een van ons iets belangrik uit die storielyn mis nie.

Maar dit beteken ek moet binne enkele sekondes besluit wat vir hom die belangrikste is om te weet in hierdie situasie wat besig is om te ontvou. Is dit die vrou in die rooi broek wat netnou voor die venster gestaan het, maar nou by die kroeg sit? Of is dit die polisiekar wat onder in die straat geparkeer staan? Dalk die bordjie bo die deur wat lees “Private Entrance” of die sleutels wat ongemerk uit iemand se sak val?

Dankie tog vir rewind knoppies! Want soms kry ek dit verkeerd en maak die storie nie vir hom sin nie.

Nie omdat hy iets verkeerd doen nie, maar omdat sy spaaroë se instinktiewe besluit toe nie so suksesvol was nie.

Soms wens ek die Here se stem was so duidelik in my eie oor.

Wat sou ek nie wou gee om te weet wat die hele, volledige prentjie in my 15-seconds-of-fame op aarde behels nie! Hier vanaf my stoepie sien ek net die krisis wat voorlê en my eie gebrek aan proviand.

Vanuit Sy perspektief sien Hy dinge wat in ander ruimtes afspeel, soms op ander kontinente, waarvan ek niks weet nie, maar waarvan die rippeling my wel sal bereik.

As ek maar so geduldig soos my man kan wees! Hy kla nooit as my beskrywing te stadig of te algemeen is nie.

Maar ek… Sug.

Die Here ontvou altyd presies wat nodig is vir my om te weet binne die oomblik in tyd en plek waarin ek bestaan.

Daar behoort in my geen twyfel te wees nie.

Maar onsekerheid maak mens dom. Dit maak mens bang. En dryf mens gereeld na iets of iewers waar jy hoop om antwoorde te kry.

Jeremia was niks anders nie. Maar dit was nie ONsekerheid wat hom gedryf het nie. Dit was die sekerheid van die oordeel wat vir die Volk van Jahweh gewag het, wat hom telkens terugdwing na die Here toe om net weer te vra: “Here…?”

En die Here praat, geduldig maar driftig, in meer as 50 hoofstukke met Jeremia hieroor.

En dan, in hoofstuk 51:

“Moenie bang wees en angstig word as julle die eerste nuus in die land hoor van moeilikheid wat kom nie.

Elke jaar sal daar sulke stories loop van geweld en van leiers wat teen mekaar baklei.

Die tyd kom dat Ek Babel se afgode gaan straf. Die hele land en sy mense sal verneder word.”

vers 46

“ ‘Julle mense van Juda wat die oorlog oorleef het, begin beweeg! Moenie nou staan en talm nie!

Julle is miskien nou nog in ’n ver land, maar dink aan My, die Here.

Maar droom ook ’n slag ’n bietjie oor Jerusalem waar julle huise is.’ “

vers 50, Die Boodskap

Ons droom van ‘n land waar daar geen geweld meer is nie.

Waar mense mekaar respekteer bloot omdat hulle mense is.

Waar die ongesproke gebooie van lief wees vir God en lief wees vir mekaar, die motief agter alles is.

Ons is nog nie daar nie. Maar die Here is.

Hy praat vanuit ‘n tyd en plek waar Hy elke dag kan sien wat almal beplan en waarheen almal oppad is.

Ook die rolspelers in my eie kortfilm.

En Hy deel met my wat nodig is vir my om te weet. Die res weet Hy.

Om te wéét dat ek nie weet nie, is (soms) vir my genoeg.

Die res van die tyd skarrel ek.

Hoe dwaas.

Jou temalied vir die week: What a good God


Σχόλια


bottom of page