top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Skrapsels wonderwerke is steeds wonderwerke



Die ding met aanhoudende reën is dat ‘n mens naderhand die absolute wonder van die waterkringloop begin mis.


Dink net: daar waar daar water is, en solank ons hier is sal daar altyd êrens water wees, laat die son se hitte die vog verdamp sodat ons wolke kan kry wat groter en vetter en swaarder word totdat hulle later nie meer hulle giggel kan hou nie en lag totdat hulle huil tot onder op die aarde waar ons dankbaar wag vir die hemelgelag.


Wat ‘n wonder!


Hier op ons eiland is dit baie droog die laaste paar maande. Elke tweede dag gooi my rekenaar by die werk so ‘n rooi waarskuwing onder op die skerm uit: RECORD HIGH.

Dis warm.

Vir hier.


So, toe dit netnoumaartjies so liggies begin reën, kan ek nie help om te dink aan die Oos-Kaap nie. Ons laaste spore lê nog daar en ek onthou goed hoe ek emmertjies sou uitsit om my stortwater en die dwaaldruppels van buite op te vang.


Noudat ons hier is, vergeet ek soms.

Totdat ek sien hoe dankbaar ons daarmense is vir elke paar vingers in die maatbeker!


Jesus se wonderwerk met die vyf broodjies en die twee vissies is van kleins af al so ‘n stapelvoedsel in ons teologiese vorming dat ons soms steeds die wonder daarvan mis.

‘n Mens kan dit seker verstaan, dit ís darem 2000 jaar later.


Maar selfs op daardie dag, toe die menslik onmoontlike reg voor hulle oë gebeur en daar eers ‘n sagte gesuis onder die skare begin en toe verander in ‘n tsunami van uitroepe wat aangerol kom van Jesus af reg oor die vlaktes tot by die verste tafel van 50, selfs op daardie dag het die wat geëet het maar vinnig vergeet.


“When they had eaten enough, He said to His disciples,

‘Gather up the leftover pieces so that nothing will be lost.’”

John 6:12 AMP


Ek is maar ‘n sentimentele enetjie, maar ek sou dink dat mens dalk elke skrapseltjie sou koester en saamvat huistoe en werk toe en gaan vertel vir die wat jy kan vertel en op sosiale media gaan post oor hierdie wonderwerk waarvan jy deel was.


Ek sou dink dat jy elke stukkie wat na jou kant toe kom sou optel en bekyk en probeer uitfigure hoe hierdie een uit net vyf broodjies uiteindelik by jou in die verste linkerhoek van die vlakte uitgekom het.


Ek sou dink dat hierdie flentertjie dalk ‘n spesiale plek op jou kaggelrak sou kry, kort voor lank kliphard en onaptytlik, maar steeds ‘n herinnering aan daardie dag van wonders.


Maar daardie skare het nie.

En ons doen ook nie.


Die tekens en die gevolge van wonderwerke waarvan ons deel het, lê oral om ons soos wat ons dit in gedagte sommer net êrens los voordat die dag se laste weer ons aandag vereis.


Maar Jesus was nog nie klaar nie.


“So they gathered them up, and they filled twelve large baskets with pieces

from the five barley loaves which were left over

by those who had eaten.”

John 6:12 AMP


Sou dit ‘n mandjie elk wees vir die dissipels wat gereed was om die wonderwerk te sien vir wat dit was?

Sou dit die saad wees wat op die goeie grond gesaai is sodat die geslagte wat sou volg steeds daarvan sou praat?


Ek glo so.

Want Johannes het vertel, en nageslagte luister steeds.

2000 jaar later.


Gooi ek die klein wonderwerkies in my lewe ook so onnadenkend oral rond waar ek maklik daarvan vergeet, of maak ek hulle bymekaar vir die wonder wat hulle is, sodat ek die wat naaste aan my is, daarmee kan sterker maak?


Jou inspirasie vir die week: Don’t get me started



Comentários


bottom of page