“Keep it simple; you are the equipment.”
Jesus, Luke 9:2 The Message
Soos wat mens ouer word, verdroog die belangrikheid van sekere goed in jou lewe soos roosblare wat verby hulle tyd is. Een oggend word jy wakker en dan lê dit in skadu’s van bruin op jou ma se gehekelde lappie al rondom die blompot se boepensbodem.
En jy is okay daarmee.
Hier in Engeland is ‘n Sunday Roast so tradisioneel soos ‘n Sondag skaapboud. Hier is dit egter ‘n blok (letterlik) beesvleis, gemaak om low en slow gestowe te word om die beste daaruit te kry.
Wat weet onse Suid-Afrikanertjies…?
Na drie ure behoort dit mos darem gereed te wees. Kerk is al lankal reeds uit en ons is honger, man!
Ons worstel deur die taaigeit en kan nie verstaan waar die attraksie dan lê nie, maar besluit om dit maar terug te sit in die oond vir vanaand weer probeer.
Net om verras te word met die sagste veseltjies vleis wat uitmekaar val in die heerlike, dik vleisaftreksel onder in die pan.
Tyd. Dit is wat nodig was.
Nie fancy speserye of kombuisgadgets of ‘n ander stuk vleis nie.
Ons het alles wat nodig is vir die taak, die Here gebruik bloot ons tyd op aarde om ons toerusting in te stel en reg te kry vir die presiese taak waarvoor dit bedoel is.
Daar is soveel goed wat wil inmeng met dit waarvoor ons geroep is.
Nie bose goed nie, sommer net aardse goed.
Met die genade van die Gees in ons, leer ons om dit agter ons te los wat ons nie help om Sy doel te bereik nie.
Soms is dit nodig om die boom net nog een ordentlike skud te gee om ontslae te raak van herfs se laaste dooie blare sodat jy kan hark en daar niks is om jou oog af te lei van die seisoen se nuwe botsels nie…
“Jesus asks His Father to grant us more time,
and then He provides us with every opportunity to grow.”
Jou inspirasie vir die week: The kind of God you are
Comments