Om maar net elke dag in die voetpad te bly waarin die Here ons geplaas het, kan uitputtend wees. Na ‘n rukkie verloor mens so effens van die passie waarmee jy stok en hoed in die pad geval het en begin jy wonder of dan ooit op die régte voetpad is. Veral as die langverwagte Beloningsbaai nie oor die volgende bult óf die volgende bult óf die een daarna verskyn nie.
En soms, as ons nie kan verstaan hóédat God besig is om dinge uit te werk nie, kry ons vertrouspier ‘n kramp en versteen. Ons vertroue in die Here gaan met langverlof.
Ons brein se manier van dink kan baie met wandelpaadjies vergelyk word. Nes ‘n oorgroeide, beboste pad oopgetrap en platgedruk word soos wat voetval dit verander, net so versterk sekere denkpatrone in die brein deur gedurig langs daardie paadjies te loop met jou gedagtes, jou gevoelens en jou optrede.
Dis dan maklik om te verstaan dat mooi wandelpaaie – pragtig, mooi uitgetrap en met blommetjies langs die pad versier – net so maklik gevestig kan word as ‘n pad waar al die sagte sand weggestap is en net skerp klippe en onheilspellende rotse ná die verweer oorbly.
Die geheim lê egter daarin om te besef dat elke keer wanneer ek die keuse maak om myself op die mooi pad te neem, dit die duwweltjies en dryfsand toelaat om die klippad stadig-maar-seker onbegonne te maak, totdat dit later net ‘n naambordjie op ‘n baie ou kaart word.
Ek wonder egter of die ooms en tannies met die stofjaste en dik brille wat die brein se neuroplastiese kapasiteit ontdek het, besef dat dit eintlik al van Bybelse dae af ‘n beginsel is wat Christene kan en behoort toe te pas?
Fillipense 4:6 NLV
“Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles.”
Wat ookal oor jou pad kom, stap met dit deur die hekkie van jou grasgroen wandelpad.
Elke keer.
“Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.”
Met elke dankie trap ek die lang gras plat, maak ek die pad vir volgende dankies soveel makliker om te kry.
“En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is.”
Dit is waar die vrede wag.
“Ten slotte, broers en susters, vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.”
Alles wat waar is wanneer my gedagtes loop neem, trap die paadjie oop.
Alles wat eerbaar is wanneer my gedagtes loop neem, trap die paadjie oop.
Alles wat skoon is wanneer my gedagtes loop neem, trap die paadjie oop.
Alles wat suiwer is wanneer my gedagtes loop neem, trap die paadjie oop.
Alles wat lieflik en lofwaardig is wanneer my gedagtes loop neem, trap die paadjie oop.
“En leef volgens alles wat julle van my geleer, oorgeneem, gehoor en gesien het. Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees.”
En elke keer dat ek dit lééf, los my voetval ‘n pad in my gedagtes wat na vrede lei.
As ek dan nie kan verstaan waarmee die Here besig is nie, mag die Vader se genade gee dat ek nie my eie, nuwe, klipgwarrie pad wil loop uitkap nie!
Dat ek net oor en oor op die ou paadjies van Sy getrouheid sal bly stap, terwyl my dankbaarheid oor al die rusplekkies langs die pad agter my, die lang grassies voor my platmaak.
Jou temalied vir die week: Bet all I have
Comments