Gisteraand 19h00 vind ek myself in A&E (Ongevalle) met ‘n baie rare voorkoms van Weet-Nie-Waar-My-Kontaklens-Is-Nie. Dat ek hom die oggend mooi in die linkeroog geposisioneer het, sal ek my regtervoortand op wed. Wat sedertdien van die flentertjie geword het, sal ek seker eers eendag in die hemel uitvind.
Maar terwyl ek in daardie wagarea sit en sien hoe weerloos mense daar instap, besin ek oor die seëning van sien. En die straf daarvan.
My man is nou al sewe jaar siende-blind. Siende, met die minder as 1% wat hy in beide oë oorhet, blind vir enigiets wat verder as 5cm van sy oë af is.
In hierdie tyd het hy egter die vermoë ontwikkel om die gawes wat ons so maklik as vanselfsprekend aanvaar, te ontwikkel tot bo-normale vlakke: sy gehoor, sy intuïsie en ‘n fyn aanvoeling. Ek vermoed dit het gebeur sonder dat hy dit so beplan het.
Terwyl hy aan my elmboog vashou oor ‘n besige pad, sal hy die een wees wat vir my waarsku oor ‘n kar wat aankom.
Waar ek soms nog ‘n moeilike dag van hom af kon wegsteek deur net ver genoeg uit sy gesigsveld te bly, tel hy nou dadelik op hoe my hart lyk as ek net ‘n vertrek binnestap.
‘n Familiêre stemmetjie 11,000km ver kan niks meer van sy fyn aanvoeling wegsteek nie.
En ek kan nie help om die seën raak te sien wat opgedaag het toe sy sig die pad gevat het nie.
“Toe Jesus sien hoe hulle reageer, sê Hy: “Waarom kraak julle die vrou so af?
Wat sy vir My gedoen het, beteken vir My baie. Onthou een ding: julle kan later die armes help, want daar sal altyd arm mense wees. Maar Ek gaan nie altyd by julle wees nie.
Sy het hierdie geurige olie oor my liggaam gegooi terwyl Ek nog hier by julle is.
Hierdie liggaam gaan binnekort in die graf lê. Daarom kan julle seker wees dat Christene nooit sal vergeet wat sy vandag gedoen het nie.
Waar mense in die toekoms ook al oor My gaan praat, sal hulle oor haar ook praat.
En hulle sal dit graag doen.”
Mattheus 26:10 Die Boodskap
Die dissipels, Judas in die besonder, het gesien hoe Maria die albesterfles oopbreuk en kosbare nardusolie oor Jesus se voete stort. En sy sien laat hom dwase woorde stotter.
Vir Maria kon die ete saam met Simon en die dissipels lyk na net nóg ‘n braai om hulle te troos na die Bokke-neerslag, maar haar fyn aanvoeling en intuïsie noop haar om Jesus te salf soos Hy ‘n paar dae later, leweloos, gesalf sou word.
Hoeveel keer meng my oë in met dit wat U wil hê ek moet sien, Here God?
Hoeveel keer sou my lewe nie meer vrug gedra het as ek
meer van die Gees se woordelose aanporring
meer van die bewing in my hart
meer van die teenwoordigheid van Heiligheid
gevóél het,
eerder as dit wat ek kon sien,
wonder ek.
Tussen my en my man deel ons net een heel paar oë.
As dit U wil is, Here, maak ons blind vir enige iets wat nie van U af is nie.
Stokblind.
Jou inspirasie vir die week: Steeples
コメント