top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Sy sien makeer niks


Sien Hy regtig alles wat hier onder aangaan? Of dalk – liewe Vader, ek hoop nie so nie!

Of miskien – dank die Here, Hy sien.


“Niemand behalwe die Leviete mag die ark van God dra nie.

Die Here het hulle gekies om die ark te dra en vir altyd daarvoor te sorg.”

1 Kronieke 15:2


Die dag toe Dawid die keuse maak om die Ark agterop ‘n wa te laai, eerder as om die Leviete dit te laat dra, het God gesien.

Die dag toe Dawid probeer regmaak en hierdie keer die Leviete opdrag gee om die Ark op hulle skouers te tel, was God ook daar.


En Hy sien.


Toe die boere bymekaarkom en bid en pleit en huil vir reën, het die Here hulle hulpgeroep gehoor.

Die dag toe daardie eerste druppels na jare weer vir skilpaddrinkwater sorg, was God daar.

Maar die dag toe die boer langsaan sy laaste koei moes skiet, het God ook gesien.


Die dag toe ‘n Driehoek betonblok val en drome, verhoudings en bloedlyne verpletter, was Sy oog op Sy kinders gerig.

Die dag toe ‘n pa opstaan en bo-oor die bloed van sy seun uitroep vir ‘n land om te hoor, het Sy oor gehoor.

Die dag toe die vyande van vrede saam juig oor die uitgedoofte hulpgeroep van onskuldige asems, het God nie Sy rug gedraai nie.


Goed of sleg, God bly steeds God, en Hy sien.

Vir die een wat weier om die knie te buig voor die Koning van die konings, wag ‘n verpletterende skouergreep wat slegs ‘n knielende houding kan verlig.

Want God sien.

Vir die een wat doelbewus en met wilde oorgawe die goed en sleg van hierdie lewe en hierdie wêreld kan afsny en wegboender en net dit wat die heel belangrikste is oorhou, wag daar ‘n skatkis vol van die beste uit Sy hand.

Want God sien.


Sommige vertalers meen die Leviete moes daardie ark 5 of 6 kilometers ver op hulle skouers dra, ander vermoed weer dat dit meer as 10 moes wees. Maar ver. Baie ver.


“God gave the Levites the strength they needed to carry the chest…”

1 Kronieke 15:26


Dit nadat Dawid ‘n duidelike opdrag van die Here verontagsaam het. Nadat hy so kwaad vir die Here was dat hy ‘n plek vernoem het na die oordeel van die Here.


Maar toe hy kom en vergifnis vra en kry, kry hy ook die krag wat nodig sou wees om uit die gat (wat hy vir homself gegrawe het) te klim.


Dalk is jy vandag besig om die gewig van ‘n betonblok te dra wat jy toe nie kon help oplig van iemand anders af nie.

Dalk is jou gesig plat in die sand tussen klapperbos en kruisbessie en daar is geen lawenis van bo nie en maak nie saak hoe diep jy grou nie, dit bly droog.

Dalk is bloed van jou bloed besig om onrus te saai en vure aan die brand te steek wat jy bang is nooit weer geblus sal kan word nie, al probeer jy oral jou eie brandstroke in stand hou.


Ken jou God, vra daai pa.

Hy sien jou en al jou pyn en seer.

En omdat Hy sien, voorsien Hy ook…


Krag vir dae dat ‘lewe’ ‘n onmoontlike werkwoord geword het.

Genesende liefde wanneer haat my wil oorspoel.

Heilige vrede in tye van vernietigende weerpatrone.

Aanvaarding waar antwoorde ontbreek en mense jou kalmte wantrouïg gadeslaan.


Maar jy daar ver –

Hy sien ook jou haat en venyn.

Jou onbillike verwyte en vervolging van onskuldiges.

En omdat Hy sien, straf Hy ook.


En dít kom maak mý vry.

Hy sien.

En Hy voorsien.

Ook die straf.


Jou temalied vir die week: Haven’t seen it yet


Comments


bottom of page