Ek het tyd met die Here nodig.
Ek het nodig om Sy stem te hoor wanneer die geskree van die wêreld my moeg maak.
Ek het nodig om die stille kalmte van Sy teenwoordigheid te voel.
Elke dag, het ek Hom nodig.
Dis amper einde van die jaar en as ek terugkyk kan ek nie help om te wonder waarheen die ure, dae en maande verdwyn het nie. Soos ek ouer word is dit asof die sandglas elke jaar net vinniger leegloop. En juis nou, wanneer ‘n mens eerder wil begin afskaal en teen luierspoed die einde van die jaar wil indryf, moet ek nou nóg ‘n rat vind, want daar is nuwe eindpunte en teikens wat hulle opwagting gemaak het.
So dan-en-wan vang ek myself dan dat ek wil ophou asemhaal.
Dis asof my binneste net so ‘n ruk gee as ek beginne dink aan Die Taak wat nog voor my lê en my fokus raak dof-verdeel.
Maar dit was so ‘n paar weke gelede. Intussen het die Here opgedaag.
Hy was altyd nog hier. Maar deesdae onthou ek dat ek Hom gevra het om borg te teken vir my.
Hy sal dit hanteer.
Hy sal dit goed laat uitwerk.
Hy sal ook dít bewillig en bewerk totdat dit gevorm is na Sy wil.
En daarmee saam kom ‘n groot stuk vrede.
“Vir Salomo. ’n Lied vir mense wat Jerusalem toe gekom het om die Here te dien
As die Here die huis nie bou nie,
bou die bouers ’n bouval wat enige oomblik inmekaar kan stort.
As die Here die stad nie oppas nie,
help dit net mooi niks dat die polisie die strate patrolleer nie.
Dit is ’n vermorsing van tyd om vroeg op te staan en tot laatnag wakker te bly
en jou morsdood te werk.
Die Here gee vir almal wat Hy liefhet al hierdie goeie dinge in hulle slaap.”
Psalm 127:1
Hierdie vertroosting is nie vir almal nie. Dit is vir die wat Jerusalem toe gaan om die Here te dien.
Die Salomo wat hier skryf het twee take gehad: Bou ‘n paleis en bou ‘n tempel.
He began at the right end, for he built God’s house first, and finished that
before he began his own;
then God blessed him,
and he prospered in all his other buildings.
Matthew Henry
Dan maak dit nie saak hoe krom en skeef my klippe gekap word nie, as Hy besluit het om die huis op te rig, sal dit bly staan.
Syne en myne.
As ek nie toelaat dat my vroeg opstaan en laat gaan slaap my keer om Jerusalem toe te gaan om die Here te gaan dien nie, sal Hy my genoeg vrugbare ure elke dag gee om te doen wat nodig is om die huis klaar te kry. Syne en myne.
Dit wat Hy vir my in my slaap gee, is nie noodwendig sukses en baie geld en goed nie.
Maar ‘n huis wat staan,
‘n binne-vrede wat geen polisiemag ter wêreld kan verseker nie.
En ewe skielik sien ek Sy hand oral.
Klein en groot suksesse,
bietjie geld en baie geld,
min goed en baie goed.
‘n Huis.
‘n Tempel.
Maar dit alles begin met die dien van die Here.
“Wysheid begin met die dien van die Here;
almal wat dit doen, het ware insig.”
Psalm 111:10
Jou temalied vir die week: God, I look to you
Comments