top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Tog net minder drama


“This time,” Samson answered,

“I have a good reason for really hurting some Philistines.”

Rigters 15:3 CEV


Ek weet nie hoekom hierdie sinnetjie so by my bly vassteek vandag nie.

Sou dit wees dat die verskillende klem-opsies my fassineer?


‘Hierdie keer’ sou impliseer dat Simson vantevore al by hierdie punt gekom het. Seker nie ondenkbaar nie, want ons lees in die voorafgaande hoofstuk dat hy maar ‘n hardkoppige, moeilike man was – sommer al van jongs af.


En die feit dat hy nou hierdie keer die Filistyne ‘regtig’ seer wou maak, sou dalk daarop sinspeel dat hy homself nog die hele tyd moes beteuel om nie sy volle mag en krag op hulle los te laat nie? Klink vir my na ‘n regte barfighter.


Hoe dit ookal sy, in Rigters 13:3 lees ons dat Simson van sy geboorte af aan die Here gewy moes word. In een van die Engelse vertalings lees ons:


“He will belong to God from the day he is born…”


Jip. Die moeilike man met die kort humeur? Sou aan God behoort van die dag dat hy sy eerste kwê sou sê. Hierdie einste man sou ‘n hoofrol speel in die plan wat God vir Israel in gedagte gehad het.


Simson was nie perfek nie. Allermins.

En steeds hou sy lewe belofte in.

Steeds sou hy aan God behoort.

Vir die gevange beteken dit dan dat jy nie meer aan die tronktralies of die kettings om jou voete hoef te behoort nie.

Jy kan aan God behoort.

Vir die verslaafde beteken dit dat jy nie meer aan daardie ding wat jou naam so gereeld en ongereeld dringend en opdringerig kan roep hoef te behoort nie.

Jy kan aan God behoort.

Vir die wat besig is om te sterf beteken dit dat jy nie meer aan hierdie liggaam of aan die kanker hoef te behoort nie.

Jy kan aan God behoort.

Vir die patriot beteken dit jy hoef nie meer aan hierdie nasie of land of volk of taal te behoort nie.

Jy kan aan God behoort.

Vir die skuldbelaaide beteken dit jy hoef nie aan ‘n bank of skuldeisers of die balju te behoort nie.

Jy kan aan God behoort.

Vir die wat moeg en oorwerk is beteken dit jy hoef nie meer aan die maatskappy te behoort nie.

Jy kan aan God behoort.

Vir die depressielyer beteken dit dat jy nie aan hierdie ewigdurende hartseer hoef te behoort nie.

Jy kan aan God behoort.

Vir die wat misbruik is beteken dit jy hoef nie langer te behoort aan die persoon of die herinneringe van jou so seermaak nie.

Jy kan aan God behoort.


Wanneer ek aan God behoort dan vat Hy my onvolmaakte self, maak dit vol met Sy volmaakte plan en gebruik my – met al my ek-ismes – tot uitbreiding van Sy koninkryk op aarde.


Laat dink my aan Victoria-Wes uithourit, 1996. My eerste keer op ‘n perd is toe sommer ook 120km-in-drie-dae lank.


Nodeloos om te sê was my liefde vir die ou wat my saamgesleep het soontoe, net neffentjies meer as die liefde wat ek vir die steekse Koffiepit oorgehou het. Sommer die eerste dag wil sy mos oop-en-toe agter die lawwe mannetjiesperd aan en ek en sussie het níévoor die tyd ooreengekom watter kant van die bos ons sal verbygaan nie.


Dom en onervare besluit hierdie dorpsjapie toe mos om eerder te los en haar kanse met die bos te vat as die berge en dale waarheen haar edele oppad was. En daar slaat ek neer. Dis net stof en blou kolle waar jy kyk. Sal maar nie sê wat ek alles kwytgeraak het nie.

Maar dis maar hoe die lewe ook werk, dink ek nou.


As ek bly vasklou aan die leiriem van my eie lewe vir al wat ek werd is en weier om by God se galopritme in te val, sal baie trane en ‘n deurgestampte agterstewe my hele lewe kenmerk.

Maar as ek volg waar Hy my lei, soos ‘n hansperd al agter die Een met die groot Granny Smith appels aan, dan loop dinge heelwat gladder.


Simson het nouwel God se plan tot uitvoer gebring, maar dalk, net dalk, kon sy lewe heelwat minder drama gehad het.



Jou temalied vir die week: God's not done with you

bottom of page