top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Tweespel


Méri en Rupert se twee poplappe is op 30 Julie gebore. Die van ons wat hulle al lank ken, weet dat dit beslis twee wonderwerkies was wat daardie dag hulle opwagting gemaak het!


Die twee patatte is nog skaars 'n asempie oud, maar 'n mens kan alreeds sien dat elkeen hulle eie unieke geaardheid het. Dit beteken eintlik dat dit nie net één wonderwerk was wat aarde toe gekom het nie, maar twéé.


Twéé keer het die Meester sy klei uitgehaal, gebrei, gevorm.

Twéé keer het Hy daarna gekyk en gedink: "Dit is goed."


Daar is sommer baie twee's in ons wêreld. Of hulle nou eenders of anders is... elkeen 'n kritieke deel van die geheelprentjie.


Sonskyn en reën. Lag en huil. Saai en oes. Gee en neem. Kom en gaan.

Vinkel en koljander. Kool en spinasie.


Dan is daar ander twee's wat alleen net nie altyd sin maak nie. Ons leef in die 21ste eeu en het heel vindingryk geraak om iets uit niets te maak. Maar tog. Hierdie goed hóórt by mekaar.


Ink en papier. Naald en gare. Hamer en spyker. Potte en deksels.


Berou en genade. Wonde en letsels.


Vanoggend gesels 'n oom na kerk met my oor Gideon. My boodskap het nou williswaar die roem van die mannetjie besing, maar soos die oom my tereg uitgewys het: Net so 'n yster as wat hy was, het hy later 'n afgodsbeeld opgerig!


"Gideon het gesê: 'Nie ek of my nageslag kan oor julle regeer nie,

net die Here regeer oor julle! 

Maar ek het wel ’n ander versoek. Elkeen van julle moet vir my een van die goue oorringe gee wat ons by die Midianiete afgevat het.' Die Midianiete het graag goue oorringe gedra.

'Dit sal ons vir jou doen,' het die volk gesê...

...Gideon het toe ’n afgodsbeeld van die goud gemaak en dit in sy tuisdorp, Ofra, gesit.

Dit was nie lank nie of die Israeliete het hulle rug vir God gedraai en hierdie afgod begin aanbid. Hierdie beeld het Gideon en sy familie verlei om weg te dwaal van die Here af."

Rigters 8:22 Die Boodskap


Tog... wanneer die geloofshelde in Hebreërs 11 genoem word, dan staan die einste Gideon se naam ook daar. Hoe dan nou?


Al wat ek kan dink is dat nie een van ons weet wat in Gideon se laaste oomblikke tussen hom en God gebeur het nie.


Ja, hy het drooggemaak.

Ja, ons God is steeds 'n regverdige God.

Die enigste verklaarbare verduideliking hiervoor moet wees dat daar by Gideon (dalk in sy laaste asem eers) 'n stuk opregte berou oor sy lippe gestoot het.

Berou wat 'n stortvloed genade oor Gideon laat uitgiet het.

Berou wat vir ons verborge gehou is.


Gideon se storie is ook myne, besef ek.

Ek maak net so droog. Gereeld.

En ek weet nie of ek ooit die geleentheid sal kry om my God in die oë te kyk en te sêdat ek opreg berou het voordat my eie strepie getrek word nie.

So ek doen dit daagliks.


So baie keer gebeur dit egter vandag nog dat ons instap op die genade-hoofstuk van iemand anders.


Maar omdat ons nie 'n voorste sitplek in hulle eenman-vertoning van berou oor 'n vroeëre lewe van verkeerde keuses en slegte besluite gekry het nie, besluit ons dan sommer self dat die genade hulle eintlik nie toekom nie.


Wat my vandag weer herinner aan die woorde van wyle Billy Graham:


“It is the Holy Spirit's job to convict,

God's job to judge and

my job to love.”


'n Onbekende iemand het ook iets anders gesêwat my bybly:


"Do not judge my story by the chapter you walked in on."


Dankie dat jy my by jou lewe innooi.

Ek belowe om fyn te trap.

En te onthou dat my eie tweespel net so 'n realiteit is soos joune.


Jou temalied vir die week:  No matter what

コメント


bottom of page