top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Tyd vir sit is nou verby


“All we need in this world, is really just two things: Faith and family.

This thing we’re facing have hopefully brought us back to both.”

Jentezen Franklin

My eerste instink wanneer ek sien dat mense die gevaar ignoreer of doelbewus afmaak as malligheid of ‘n ‘wit ding’ of ‘n geldmaak-konspirasie, is woede. Ek het dit ‘n paar keer al bietjie verloor, as ek eerlik moet wees.

Maar die Here het ‘n manier om my te herinner. ‘n Goedgeplaasde Facebook-inskrywing, of ‘n videogreep net wanneer ek by die TV verbystap oppad kombuis toe, hét al my my gepraat so reg uit die Here se mond uit.

Dit is maklik vir my om kwaad te word, want ek weet ‘n klomp goed.

Ek weet hoe soortgelyke traak-my-nie-agtighede in angswekkende onthoustories ontpop het van ysskaatsbane wat nou opslaanlykshuise word.

Ek weet hoe angstig en vreesagtig selfs mediese personeel word hoe verder hierdie ding versprei en hoe harder die moegheid en hulle eie menslikheid hulle tref.

Ek sien hoe verward en verslae mense lyk wat eens gedink het hulle is onaantasbaar.

Maar outjies, Afrika is anders.

In Afrika het nie elke tweede huishouding ‘n TV nie.

Die wat wel toegang het tot een of ander nuusprogram, werk so hard aan hulle en hulle familie se eie oorlewing van dag-tot-dag, dat ‘n gogga met ‘n baie vreemde naam daar anderkant by die Sjinese nou nie juis vir hulle laat wakkerlê nie. Want Sjina is mos baie ver, jy weet.

Ignorence. ‘n Gebrek aan kennis.

“My Volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis,” sê die Here, en hoeveel meer maak daardie woorde deesdae vir my sin.

Maar vir kennis om genoeg te wees om ingesteldheid en gedrag te verander, is daar ‘n dryf nodig.

Kennis alleen, sonder die ingryping van die Heilige Gees om dit te laat wortel skiet in die hart van mense, sal ons nie kan red nie.

En dan versag my hart so bietjie.

Hulle het nie die kwaai polieste van Indië se harde slae met daai houtpale nodig nie.

Hulle het het wysheid nodig… insig, kennis en ‘n verandering van hart.

Ons weet tog dat nie één wat vra vir wysheid, ooit teleurgestel sal word nie.

Tel dit nie ook in die derdepersoon nie?

Here, gee ons mensdom wysheid. Ons vra dit namens die wat nie weet wat hulle nie weet nie.

Binne-in die gemors, vriend Lukas spreek dit altyd so mooi uit: “ga-mOrs!”, is daar egter kort-kort ‘n lig wat êrens inkom. Soos die ligtoring lantern draai hy dalk vir ‘n oomblik sy kop weg, maar dan skielik verlig dit weer die donker aan jóú kant van die berg.

Een so ‘n oomblik was toe die einste dominee Franklin verlede week vir ons herinner daaraan dat in die hele Bybel, daar slegs gepraat word van Jesus wat SIT aan die regterhand van God.

Totdat een van Sy getroue kinders in die moeilikheid was… groot moeilikheid was.

Stefanus sou veel beter daaraan toe gewees het, in menslike terme, deur maar eerder sy mond te hou.

Maar hy kon nie. Nes vir Paulus, het die liefde van Christus hom ook gedring om die Ewige Genade wat vir almal bedoel was, te verkondig. Dit sou egter vir hom ‘n baie pynvolle en eensame einde beteken. In menslike terme.

Want hoor hier:

“Toe die Joodse Raad hoor wat Stefanus alles vir hulle sê, het hulle ontplof van woede. Maar hy was vol van die krag van die Heilige Gees. Hy het nie eens agtergekom hoe kwaad hulle was nie,

want hy kon tot binne-in die hemel sien.

Stefanus het God daar in al sy heerlikheid gesien, en ook Jesus wat langs Hom STAAN.

Toe sê hy hardop: ‘Kyk daar! Ek kan tot binne-in die hemel kyk. Ek sien Jesus, die Seun van die mens.

Hy STAAN op die belangrikste plek in die hemel, daar reg langs God.’

Na hierdie woorde het daar chaos losgebars.”

Handelinge 7:54 Die Boodskap

Ons mag vir geen oomblik twyfel dat ons huidige pyn en lyding minder van ‘n reaksie van onse Jesus Christus sal uitlok nie.

(In my binneste wonder ek of Jesus óóít weer gaan sit het na daardie dag…?)

God Drie-Enig is nie kwaad vir ons nie.

Hy sit nie in die hemel, draai Sy gesig van ons af weg en beplan ons verderf nie.

Jesus Christus staan langs ons Vader in eenheid met ons stryd teen hierdie boosheid.

Dit is Sy wil dat alle mense sal terugkeer na Hom wat hulle gemaak het.

Dit is tyd dat ons saam met Hom opstaan om die wat geval het, weer op te tel.

Die wat vir so lank ‘n leuen geglo het, die Waarheid te deel.

Om die wat so lank vasgevang was in sonde, te wys waar die Sleutel van die kettings is.

Tyd vir sit is nou verby.

Jou temalied vir die week: God of this city


Comments


bottom of page