top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Van ass na asset


‘n Donkie is ‘n wonderlike ding, sing oom Chris Blignaut van toentertyd af. Dis eers toe ek groter word en die woorde van die liedjie mooi verstaan, dat ek die fyn sarkasme daarin optel.


Maar, die donkie kán ‘n wonderlike ding wees, vertel die wêreldwye web my:


Donkies is sterker as perde van dieselfde grootte.

Donkies het ‘n ongelooflike geheue en kan ander donkies en areas waar hulle op kamp was van so ver terug as 25 jaar onthou.

‘n Donkie is nuuskierig en skrik nie maklik nie.

Donkies is nie regtig steeks nie. Hulle het net ‘n bonatuurlike sin vir selfpreservasie en sal doodeenvoudig weier om iets te doen wat hulle meen nie in hulle eie beste belang is nie.

Donkies is selfstandige denkers, en neem besluite op grond van hulle eie veiligheid.

Donkies word baiekeer saam met perde op kamp gehou omdat hulle so ‘n kalmerende effek op perde het. En wanneer ‘n donkie saam met ‘n merrie en haar vulletjie bly, en die merrie uiteindelik weggeneem word, vind die vulletjie baie gereeld troos by die donkie wat agterbly.


Hierdie week het ek myself meer as een keer gevang dat ek dink: “Jou ass!”


Vreeslik onChristelik, ek weet.


Maar dis seker hoekom hierdie gedagte toe in my hart kom lê het, want anders as om my aan die kruis te gaan spyker vir my sonde, kom maak die Gees my oë oop om te sien soos Jesus sien: “Jy dink dalk daai ou is ‘n ass, maar hy kan ‘n wonderlike asset vir die koninkryk wees!”


En as bevestiging vanoggend hierdie woorde:


“Man and his sins are not inseparable.

They may be parted.”

Henry Spence-Jones


Hierdie kommentaar volg op Psalm 36. Dawid is ontstoke oor al die asses om hom en hy pak af. Hy vaar uit in ‘n heilige tirade teen hierdie donkies van sy tyd, op-en-af in sy studeerkamer totdat sy asem op is:


“Slegte mense se lewe word deur slegte dade regeer. Hulle steur hulle nie aan God nie.

Hulle dink baie van hulleself, en praat heeltyd oor hoe goed hulle is.

Hulle floreer om kwaad te doen en mense te haat.

Lelike woorde gly oor hulle lippe; hulle het g’n idee hoe om goed te doen aan ander nie.

Hulle weet nie wat dit is om slim genoeg te wees om ander mense goed te behandel nie…”

Psalm 36:1 Die Boodskap


Maar dan is dit asof hy ‘n helder oomblik kry en besef dat sy fokus sal moet skuif.


“Here, U is baie lief vir ons, niemand op aarde kan dit ooit meet nie.

Here, U is so goed vir ons, niemand het genoeg woorde om dit te beskryf nie.

Here, U tree altyd regverdig op…

…U liefde vloei soos ’n rivier oor ons hele lewe.

U gee vir ons meer as wat ons nodig het.

U is baie goed vir ons.”

Psalm 36:5


My leerskool oor donkies sluit baie gepas af hiermee:


Om ‘n donkie te leer is om hom deur woorde en dade te wys dat hy jou kan vertrou om hom van seerkry te beskerm. Hy leer van jou wat dit is wat hy moet doen, as jy maar net die tyd sal neem om hom te wys.


“There is evil in all,

but when the heart has been won back to God,

the evil, though present,

has lost its power.”


Here, help my om te onthou van die onopsigtelike dierbaarheid van donkies.

En dat ek ook eens ‘n ass was.



Jou temalied vir die week: Mended


תגובות


bottom of page