top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Vandag is dalk Die Dag


Ek mag dalk nie met jou teologie saamstem nie, maar soms, net soms, laat val jy ‘n sinnetjie wat my tot diep in my fondament ruk, en ek weet: “Dis die Here wat nou hier praat.”

Want Hy doen dit al van van eeue gelede af.


In Esra 1 staan daar dat in die tyd toe Kores koning van Persië was, die Here Kores oorreed het om ’n besluit te neem. Die besluit het so gelui:


“ ‘Kores, die koning van Persië, gee die volgende opdrag: Die Here, die God van die hemel, het my koning gemaak van al die lande van die wêreld. Die Here het gesê dat ek weer vir Hom ’n tempel in Jerusalem in die provinsie Juda moet bou. Enigeen wat aan die Here se volk behoort, mag nou teruggaan na Jerusalem in Juda toe om te gaan help om die tempel vir die Here te bou.”

Esra 1:1 Die Boodskap


Nêrens lees ons dat Kores skielik tot inkeer gekom het van sy afgodsaanbidding en Jehova as die enigste ware God erken het nie. Inteendeel. Ons lees in Jesaja dat die Here Kores LAAT regeer het. Die Here MAAK hom sterk. Die Here GEE VIR HOM DIE KRAG om ander nasies voor hom te laat buig. Tog…


“ ‘Ek het spesifiek vir jou geroep [,Kores]. Ek doen dit ter wille van Jakob wat My dien,

ter wille van Israel wat Ek gekies het om aan My te behoort. Ek het jou ’n spesiale posisie gegee,

al het jy My nie geken nie.

 Ek is die Here. Behalwe vir My is daar nie ander gode nie. Ek het jou sterk gemaak vir jou werk,

al ken jy My glad nie.”

Jesaja 45:1 Die Boodskap


Wat beteken dit om Soewereine God te wees?


“Sovereignty is an attribute of God based upon the premise that God as the creator of heaven and earth has absolute right and full authority to do or allow whatever He desires.”


As ek vasgevang raak in die roetine van donker by die huis weg, veg vir oorlewing in ‘n wêreld waar net die wat die beste kan voorgee dit maak, afpak by ‘n donker, rokerige, lawaaierige plek om dit môre maar net weer te herhaal, hoekom sal die Here nie ‘n ongelowige kroegman gebruik om aan my hart te klop nie? Waar anders wil ek hê Hy moet dit doen?


As ek hardloop van die een kinderaktiwiteit na die ander terwyl ek my baas gelukkig moet hou, en manlief ook, en daar skaars tyd is vir gym in die oggende, wat nog te sê my Bybel lees, hoekom sal die Here nie ‘n ongelowige mamma gebruik om my ‘n waarheid splinter in my hart te plant nie? Waar anders wil ek hê Hy moet dit doen?


Waar my dag doelloos rondval van een sepie na die ander met ‘n skindertee in die middel en my neus die res van die dag in ‘n boek, hoekom sal die Here nie ‘n ongelowige skrywer gebruik om persoonlik ‘n briefie vir my af te lewer nie? Waar anders wil ek hê Hy moet dit doen?


Maar soms, selfs wanneer ek opreg na Hom soek, gebruik die Here óók ongelowiges om Sy waarheid vir my te bring.

Hoekom?

Want Hy kan.


Wie is ek om die Here voor te skryf wie en wat Hy mag gebruik om Lewe in my lewe in te spreek?

Onthou jy Bileam se donkie in Numeri 22?


Niks en niemand is te sleg, te onrein, te onheilig wanneer die Here besluit het om Sy stem te laat hoor nie.


Dit vra van my dat ek sal weet hoe my Vader se stem klink.

Al kom dit oor ‘n krakerige plaaslyn duisende kilometer ver.


Dit vra dat ek Sy motief sal verstaan en dat ek Sy waarheid sal herken.

Maak nie saak wie die boodskapper is nie.


Dit vra verhouding.

Dit vra oplettendheid.

Dit vra ‘n verwagting…


Vandag is dalk Die Dag.



Jou temalied vir die week: Miracles

https://www.youtube.com/watch?v=-wfdZAd932A

Comentarios


bottom of page