Sommer net hier rondom ons woonbuurt is groot woude met uitgegroeide bome weerskante van die hoofpaaie waar jy soms helderoordag jou kar se hoofligte moet aansit soos wat die blaresambreel die lig buite hou.
In die somer.
Want in die herfs raak die blaremuur plek-plek deurskynend totdat jy op ‘n spookasem wintersdag jou oog van die rybaan afhaal en skielik besef jy kan tot in die pens van die bomevergadering sien.
En dis asof jy ‘n nuwe wêreld ontdek!
Jou natuurlike instink sou heel moontlik vermoed dat die woud dieper gaan as wat jy nog altyd van die pad af kon sien, maar tog… Wanneer jy dit met jou eie oë gewaar lig die gordyn op ‘n splinternuwe toneel met nuwe karakters en ‘n nuwe storielyn.
Soms hou ons ons blarekant voor as die enigste kant vir hierdie wêreld om te sien en te kritiseer en te dissekteer. Min word die kans gegun om ons te sien wanneer die blare hulle kleur verloor en die kaal takke nie eers ‘n vyeblaar het om die skaam te verbloem nie en jou diepste binneste weerloos staan.
Maar vir die Here is dit anders.
Hy kyk van die binnekant af buitentoe.
Hy ken die kaal kolle intiem en Hy bemoei Hom met die kleinste mier onder grootste klip in die donkerste deel van die woud.
Niemand en niks is vir Hom onbelangrik nie.
Dit laat dink my aan die fyn beplande en mees fantastiese handewerk aan die eeue-oue geboue hier in Europa. Dit verstom my altyd wanneer ek ‘n foto neem van die hoogste punt op ‘n reusagtige argitektoniese meesterstuk en dit dan later vergroot.
Want daar doer bo, waar niemand in die tyd toe dit gebou is nog eers gedroom het van ‘n zoomlens of ‘n drone of satellietfotografie nie, het ‘n kunstenaar steeds moeite gedoen en die tyd geneem het om ‘n sementlaag uit te kerf en te skaaf in die mooiste krulle en kinkels, gesigte gedraai na die son, die mooiste patrone vir altyd vasgevang in tyd… met die verstaan dat niemand behalwe hyself ooit die skoonheid daarvan sal geniet nie.
Nes die Vader sien wat niemand anders dalk ooit in jou sal sien nie.
Hy weet dit is daar.
Hy het dit daar uitgekerf.
Daar is ook ‘n ander kant hieraan.
Ek glo dat wanneer jy moeite doen om deur die seisoene getrou te bly tot wanneer die mooi blare weg is en jy nie jou oog afhaal van die diep verborgenheid van Sy Woord nie, jy met tyd ook ‘n dieper sy van ons God sal ontdek. Daardie verbloemde verassings wat Hy deel met diegene wat bereid is om deur die seisoene van die lewe steeds met verwagting te bly glo dat daar ‘n spesiale ontdekking is wat wag, ‘n nuwe dimensie van God wat elke jaar se lees van dieselfde 1300 bladsye van die Bybel nuut kan maak.
“Your word is a lamp unto my feet
and a light unto my path.”
Psalms 119:105 CEV
Ek verstaan nou dat elke pad ook sy eie tipe lig nodig het.
Vir wanneer ek in die blaretonnel van skynbare goeie tye ingaan, maar myself skielik in donkerte bevind, gee Hy my die Lig van Sy Woord.
Vir die dae wat ek gestroop van alle pretensies onder die gluur van die wêreld se skietlig staan, lei Hy my hand al langs die muur van my daklose kerker tot by die dimbare skakelaar van Sy genade…
Jou inspirasie vir die week: Weary traveller
Comments