top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Versigtig. Opreg.

Updated: Feb 6, 2023




“Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in.

Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe.”

Mattheus 10:16 1983-vertaling


Dis Moedersdag in my hartland vandag, en so herinner die Here my spesiaal aan Stelltjie op hierdie Sondag. Dít is die teksvers wat sy gekies het vir die baie spesiale Bybelboek-koek wat vir my aanneming bestel is.


Ek werk dit gou vinnig uit en jy sou daardie jaar omtrent so oud soos ek nou wees, Ma. So in jou middel-40’s wonder ek hoekom hierdie woorde vir jou soveel waarde sou inhou? Ek was toe nog te jonk om te vra.


Maar nou is ek ouer en onbeantwoorde vrae vertoef langer, so ek gaan krap.


In Egiptiese simboliek sou die slang oneindigheid, skerp intelligensie en boosheid uitbeeld. Jesus kies om uit iets so oor die algemeen boos, dít uit te lig wat vir ons tot voordeel kan wees – skerp intelligensie.


Die bose gebruik dit natuurlik vir hulle eie bose planne, en dit sou die Here nooit goedpraat nie. Jesus wys ons egter hoe om dit rég te gebruik. Hy wys ons hoe om geestelik waaksaam te wees, skerpsinnig in ons waarneming van die wêreld om ons, en flink in ons denke.


Ons sien dit wanneer Hy vinnig is om te reageer op die duiwel se heel eerste versoeking in die woestyn, wanneer Hy skerper as ‘n Minora-lemmetjie die skrifgeleerdes en Fariseërs se uitvangvrae beantwoord, selfs wanneer Sy eie dissipels Sy wysheid bevraagteken.


So ‘n skerpsinnige verstand is egter ‘n gevaarlike vermoë. Soveel onskuldige mense is al deur ‘n skerpsinnige antwoord gewond, al was dit nie die intensie nie.


Skerpsinnigheid is ‘n waardevolle wapen, maar slegs as dit getemper kan word deur die sagmoedige opregtheid van die duif.


Met sagmoedige opregtheid alleen, sal daar egter nie veel vermag word in hierdie wêreld nie. Dit is hoekom die Here ons waarsku om nie te veel aan die een óf die ander grondgebied te gee nie. Daar is soveel hiperintelligente mense wat harteloos optree en aktief lewens verwoes, terwyl hipergoedhartige mense die wêreld oorval met vrede, maar passief toekyk hoedat die beddings uitmekaar geskop word.


Maar ons kan by mekaar leer.


Jesus wys ons dat daar wel ‘n perfekte kombinasie bestaan. Hy wys diegene wat Goedheid wil aanval, die gevaarlike kant van Sy skerp intelligensie, en vir ‘n wêreld in nood en pyn, kom Hy soos ‘n duif… sag en saggies, skadeloos en rein.


Die wêreld kan my so maklik laat sis, Ma.

Wanneer ek myself verdedig, lyk dit of ek aanval.

Ek moet onthou om meer soos ‘n pofadder te wees, Ma, en minder soos ‘n swart mamba.

My saak stel wanneer dit moet, maar nie noodwendig ‘n geveg gaan soek nie.

En ek moet onthou dat om saggies soos ‘n duif in ‘n situasie te land, sy eie sterkte het.


Versigtig…

Opreg.



Jou inspirasie vir die week: Egypt





bottom of page