Die afgelope week of so loop ek en oom Job ‘n pad. Dis dalk moeilik om te verstaan hoe iemand kan uitsien daarna om elke liewe dag ‘n nuwe stuk van hierdie treurmare aan te hoor.
Maar die storie agter die storie, is die een wat my fassineer. Die kommentators wat binne-in Job se tyd en sy kultuur en sy leefwêreld ingeklim en die motiewe en bedoelings vir ons kon oopbreek, laat my elke oggend vroeg met verwagting uitsien na ‘n nuwe les uit die lewe se seer.
Vir iemand wat soms maar sukkel met ‘n filter en dinge sê soos ek dit sien, is dit vir my ‘n troos om te weet dat die Here nie onbekend is met hierdie tipe tekortkoming in Sy skepping nie.
Job draai nie doekies om nie. Nie met sy sogenaamde vriende nie, en ook nie met die Here nie.
Hy sukkel.
Hy het seer.
Sy hart is gebreek, want Hy dink die Here is kwaad vir hom.
En hy laat van hom hoor.
En geduldige Vader wat ons het, laat Hy vir Job toe om sy hart skoon te kry. Want…
“...we are tempted to despise the trouble we do not understand.”
Om te verstaan is seker die mees overrated anker in die mens se Gereedskaptassie Vir Die Lewe. Maar om te verstaan, so dink ons in elk geval, gee ‘n mens iets om aan vas te hou. Dit gee jou voete ‘n inslaanplek as die winde van onverwagte verandering kom en jy sin moet maak uit die chaos. Om te verstaan lig op ‘n manier jou oë af van die modderspatsels op jou skoene en die waterblase op jou hande om die belofte van die omgeploegde land raak te sien.
Die Here ons God is egter geduldig. Nog nooit het Hy iemand aangejaag om hulle sê klaar te sê of hulle kla klaar te kla nie.
Hy luister, maar met die wysheid van die eeue wat weet wat Sy kinders nie weet nie.
“Everything is my friend that helps me toward God.”
Hoe oud moes ek nie geword het voor ek die waarde van die waarheid daarin kon besef nie! Meer nog:
“God himself, though He afflicts justly, does not afflict willingly.”
Maar soms maak al hierdie mooi waarhede en lewensriglyne net mooi niks aan die seer in my hart nie. Veral nie as ek sien hoe mense rondom my swaarkry nie. Dis soms makliker om dit vir mysélf in ‘n nimmereindigende mantra te omskep as om dit te deel met jou wat bloei.
( G’n wonder dat so baie van die beste skop-skiet-en-wiks flieks gewoonlik een-of-ander situasie optower waarin die held se geliefdes getreiter word nie. Want selfs Hollywood weet dit is die waarheid.)
“The confession of the mysteriousness of human suffering
is a suppressed cry for the mystery to be cleared up.”
Hierdie is kommentaar op hoofstuk 10 van Job se lewe.
“Job het gesê: ‘Ek haat my lewe, ek sien nie kans om so aan te gaan nie. Daarom gaan ek nou presies sê wat my pla. Ek is bitter ontevrede. Ek gaan vir die Here sê: Moenie my net straf nie. Sê vir my waaroor U my aankla.
Dink U dat dit reg is om my so swaar te laat kry? Hoekom dink U so min van my?
U het my tog self gemaak.
Aan die ander kant is U so tevrede met die dinge wat die slegte mense doen.
Ek verstaan dit nie mooi nie…”
Job 10:1 Die Boodskap
Die Vader se stilswye is nie ‘n aanduiding dat Hy saamstem met alles wat Job kwytraak nie. Maar Hy weet: Totdat Job nie aan die einde van homself gekom het nie, sal die stemme in sy kop nog te veel raas om die Een stem te hoor wat saakmaak.
“Like the dove returned to the Ark – when there is no rest for the wounded spirit,
it turns and finds its rest in God.”
Vanaand wil ek met al my verstaan-U-nie’s net by U voete kom rus.
Dis die stilste daar.
Jou temalied vir die week: Speak to me
https://www.youtube.com/watch?v=sggZxqDFPis
Comments