“Jy moet glo dat die Here jou sal help,
jy moet sterk wees, jy moet dapper wees,
jy moet glo dat die Here jou sal help.”
Psalm 27:14 ABA
Toe hierdie nuwe jaar afskop met die woord T-R-U-S-T in my grein gegraveer, het die verwagte omtrek van die betekenis daarvan maar ‘n klein sirketjie vol gelê. Soos wat die jaar aanstap, word my verstaan groter, eis dit van my om my vertrou-broekrek ver verby sy ingeperkte stiksels te trek, selfs tot gare-breekpunt toe.
Dit vra van my om te vertrou ten spyte van dit wat my oë kan sien.
Ons weet mos nou al dat om te glo (die Here te vertrou), is om seker te wees van die dinge wat ons hoop,
om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
En deel van die dinge wat ek nie sien nie, is Vader se kalender vir my.
Soveel dae donker word altyd gevolg met ‘n uitgeblokte tyd van vreugde.
Sy kalenderdae blokkies vir my is nooit net swart ingekleur nie.
As dit is, is dit omdat ek self die merkpen gevat het.
Ek weier om te glo die donker dae is donker omdat hulle vol hartseer en pyn en verlies gegrafiti is. Inteendeel.
In Sy mooiste lopende skrif staan daar ‘G-R-O-E-I’ in die mees elegante letters geskryf, die hele blokkie vol. Soms ‘n hele ry, ‘n hele bladsy, ‘n hele jaar vol.
(Opvallend hoe T-R-U-S-T en G-R-O-E-I dieselfde spasie neem.)
Maar mooi staan dit daar. Doelgerig. Sonder huiwering. Elke letter perfek gevorm.
Soms deel Hy die dae so in halwe driehoekblokkies. Maar daai gedeelde dae se vreugde binne-in die pyn sien ek gewoonlik eers later raak. Soms eers as die afgeskeurde blaaie al heuphoog in die asblik lê.
Om my eie toegekrabbelde kalender met planne en drome en deadlines af te haal en te vervang met Sy onbekende, leë dae, weke en maande, neem vertroue. Soms meer as wat ek op een slag het om te gee.
Dan skeur ek een van my eie blokkies uit en sit dit by Sy voete.
“Vervang, asseblief.”
Soos wat my T-R-U-S-T groei en ek Sy plan met my lewe duideliker verstaan, kry ek moed en word ‘n week op ‘n slag uit my eie papierkalender geskeur, vervang met ‘n ingelaste, spierwit stuk gedroogte pulp wat drup met verwagting.
En soos die dae spore trap oor daardie nuwe stukkie papierpad, raak die dialoog voorspelbaar:
“Wil jy dié kontrak hê,
of wil jy My beste hê?”
“Wil jy dié huis hê,
of wil jy My beste hê?”
“Wil jy dié vriendekring hê,
of wil jy My beste hê?”
Ek wil altyd net Sy beste vir my hê, maar soms het ek nie die krag om dit te erken nie.
Soms is die prys om te betaal te hoog.
Soms is ek sommer net halstarrig.
En steeds bly Hy getrou.
Terwyl ek bly vra vir krag en genade om altyd net Sy beste vir my te kies, sal Hy aanhou gee.
Ek kan nie my kalender vinniger in stukkies skeur as wat Hy splinternuwe, doelgemaakte, enig-in-sy-soort dagbeplanners kan voorsien nie.
Soms skeur ek Syne ook in stukkies deur my eie gebrek aan T-R-U-S-T.
Maar as ek vra of ek maar vir Hom die stukkies terug kan gee, is Sy antwoord altyd ja.
“Vervang, asseblief.”
Jou temalied vir die week: Trust in You
Comments