Op Trompsburg het die wind nooit regtig sterk genoeg gewaai vir ons dorpskinders om kampioen vlieër-vlieëniers te word nie. Maar so ‘n ruk terug raak ek skoon nostalgies toe ek op pad huistoe die klompie bruin kinders met hulle vlieërs oral sien rondhardloop. Sommer so tuisgemaak, maar innoverend! Shoprite en Spar en Checkers dans in die lug soos wafferse vegvliegtuie terwyl die aanmoedigende geskreeu van die grondkant af bydra tot die atmosfeer.
Vanoggend preek Ds Vicky en hy vertel weer hoedat die Here nooit die werk van Sy hande laat vaar nie. En ek dink aan:
“Ék sal jou nie vergeet nie!
Kyk, Ek het jou naam
in my handpalm gegraveer.”
Jesaja 49:15
En ek dink aan vlieërs. En ek dink aan God.
En ek dink… my lewe is soos ‘n vlieër.
Kenmerkend van ‘n vlieër – altans die vlieërs waarmee ons grootgeword het – is dat die heel belangrikste deel van ‘n vlieër die raam is. En dis nie vreeslik ingewikkeld om te maak nie. Bloot twee latte wat soos ‘n kruis aan mekaar vasgemaak word: ‘n af-armpie en ‘n dwars-armpie. Daarsonder egter, sou my vlieër geen rigting kon hou nie, sou dit nie in ewewig wees nie en sou dit nooit die hoogste hoogtes kon bereik nie. Enige vlieërgids sal jou vertel hoe belangrik dit is dat hierdie raam stéwig moet wees!
Rondom hierdie kruis-raamwerk dan, word vislyn gespan in die vorm van ‘n diamant. Diamante is mos die grond se traan-juwele. Gevorm uit druk en hitte en uiteindelik gepoets totdat dit geskik is vir konings.
Die vlieërraam kan met papier oorgetrek word en pragtig geverf word ook, maar daai kinders wys my maar net weer: weggooi-plastieksakke werk ook. Hoe mooier beteken nie noodwendig hoe beter nie.
Die algemene reël is dat die stert van die vlieër minstens ses keer die breedte van die vlieër moet wees. As sewe dan die ‘volmaakte’ getal is in die Bybel, dan is ses mos een minder as perfeksie. Want daar is net Een wat perfek is.
Wanneer ek self my vlieër in die lug probeer hou, hardloop ek my uitasem om net ‘n bietjie wind onder die ding in te kry. En omdat ek moet kyk waar ek hardloop, haal ek dalk vir ‘n oomblik my oog van die vlieër af, of die Jeffreyswinde swiep verby en dan beland dit sommer netnou-netnou binne-in ‘n braambos. As ek nadergaan om my vlieër te gaan red, lyk die braambessies so aantreklik dat ek dalk die bos se dorings miskyk. Maar gou-gou vóél ek hulle teenwoordigheid! En omdat dit so ‘n gesukkel is om my vislynkoeke uit die bos te torring, loop haal ek eerder ‘n skêr en sny die gedoente af. Nou het ek darem weer die grootste deel van my vlieër terug, maar dan moet ek oor begin. Weer die drade gaan las.
As ek my vlieër egter vir ‘n kenner gee om te vlieg, dan draai hy die lyn sommer dubbel om sy hand om seker te maak dat hy genoeg beheer het en nie die vlieër sal verloor nie. Eerder as om rond te hardloop in ‘n poging om my vlieër in die lug te kry, loop staan hy op ‘n heuwel waar die winde sommer kort-voor-lank my vlieër hoog bo in die lug laat wapper.
En as daar dalk ‘n rukwind kom en my vlieër neerploeg en my lyn in ‘n bondel gekoek lê, neem hy die tyd om sagkens en met groot geduld die kraaines uitmekaar te torring. Sodat my vlieër weer kan vlieg.
En selfs al weet jy niks van vlieërs nie, is dit darem ‘n ongelooflike gesig om te sien hoedat ‘n kenner daardie vlieër kan laat duine ry op die vleuels van die wind, of dit weer nadertrek om hier onder langs te kom asem skep. Net om dit weer skiet te gee en te sien hoe dit klim.
Terwyl die vislyn strepe van rentmeesterskap op Sy handpalm los.
Jou temalied vir die week: Do it again
Comentarios