top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Vol, voller, volste



Die land lê omgeploeg, droog en rooi.

Links in die agtergrond ‘n ry plat Vrystaatse rante.

Die dwarrel lyk of dit van nêrens af uit die diepte van die aarde optonnel,

alles daaragter vervaag…


En ek word wakker.


Die koring en die kaf… wakkerword newels.

Ek wil swaar word.

Dit is die ligte kaf wat wegwaai.


In die helderheid van die dag gaan soek ek Bybelverse rondom ‘heavy’, maar hulle is almal ‘heavy depressing’! Duidelik nie wat my siel ingedagte gehad het nie.


Nie swaar nie, maar… vol.


Ek wil vol wees.

Ek wil so vol van Sy krag wees,

so vol van Sy liefde vir ander,

so vol van selfbeheersing,

dat die winde wat opgeroer word deur die voete van ‘n duisend plunderaars my slegs vir ‘n oomblik sal laat snak na my asem, voor ek weer val waar ek moet groei.


Wanneer ek vol is, is dit maklik.


Kaf is leeg.

Kaf is lig.

Hulle is blote doppe.

Kaf is net vol van hulself,

daar is plek vir g’n niks anders nie.

Vroeër se winde het hulle sommer weggewaai.

In vandag se tyd word hulle vinnig beestekos of kompos.

In hulself leeg, dood.

Maar steeds bruikbaar in ‘n groter plan.

Hy is die Skepper van beide.


Koring is vol.

Koring is swaar.

Koring dra lewe in hulle rond.

Hulle ontkiem en bring lafenis vir die wat honger is.

Nie perfek nie, maar bruikbaar in ‘n groter plan.

Hy is die Skepper van beide.


Ek wil vol word.

Soos die weduwee se kruik.

Selfs as ek dink daar is niks meer wat ek kan gee nie,

wil ek verstom staan oor Sy volheid in my.


Ek wil vol word.

Soos die maatemmer wat gemeet word en gestamp word en steeds

oorloop wanneer Sy mense my nodig het.


Ek wil vol word.

Soos Petrus en Johannes wat net nie kon stilbly

oor alles wat hulle gesien en gehoor het nie.


Want wanneer ek vol is, kan die dwarrel maar kom.

Daai wind wat alles dof kom maak soos ‘n stofstorm oor die Noord-Vrystaat.


“My doel daarmee is dat hulle bemoedig moet word.

Hulle moet met liefde aan mekaar verbind wees en

saam strewe na diep en volledige insig,

sodat hulle God se geheimenis kan ken.

Die geheimenis is Christus,

en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.”

Kol 2:2 1983-vertaling


Hoe meer skatte, hoe voller my koring.

Hoe makliker om my los te maak uit die dwarrel en my weg terug te vind huistoe.


Maak my vol, Veilige Gees.

Laat U Wind – en U Wind alleen – my kom en gaan bepaal.

Waai die pad wat ek moet gaan helder skoon,

en lei my.



Jou inspirasie vir die week: Hero


bottom of page