Dis belastingseisoen in Engeland en vele kundiges moet help, want hierdie is ‘n ingewikkelde storie. SARS is ‘n vulletjie in vergelyking.
En alles moet reg gedoen word, want netnou word ons gevra om te gaan.
Die COVID-reëls is streng in Engeland, en gaan moontlik nou nog ‘n strop kleiner getrek word.
Ons luister en ons lees en ons probeer alles reg doen, want netnou word ons gevra om te gaan.
Na my heel eerste (en laaste) padoortreding op Dag 2 in Engeland in 2019, ry ek wyd om die buslane en hou ek streng by al wat ‘n padreël is. (Die waarvan ek bewus is, in elk geval.)
Want netnou word ons gevra om te gaan.
Ons kyk stories op televisie van mense wat hulle wortels in die UK uittrek en gaan nuwe lewe maak – kompleet met die opslaan en oopmaak van splinternuwe besighede – so in die vreemde van ‘n sonniger Spanje of Portugal of Frankryk, maar dit raak my nie aan die hart nie.
Toe, net verlede week, ontdek ons “South Africa with Gregg Wallace” êrens op TV. Gregg is al vir jare ‘n beoordeelaar van die oorspronklike en heel eerste Masterchef UK.
Gregg se uitspraak van ‘Augrabies’ is vir my so mooi, sy g’s soos fyn skuurpapier in die keelgat af…
En ewe skielik oorval die heimwee my. En ek mis… behoort.
Terug in my land mag SARS my dalk free board & lodging gee in ‘n staatsfasiliteit, maar ek sal nóóit gevra word om te gaan nie.
En so tussen die hartseer van nomade wees, besef ek: As ‘n burger van die koninkryk van die Here, sal ek nooit gevra word om te gaan nie.
“I give them eternal life, and they shall never perish;
no one will snatch them out of my hand.
My Father, who has given them to me, is greater than all;
no one can snatch them out of my Father’s hand.”
John 10:28 NIV
Daar is niks wat ek kan doen, geen wet wat ek kan oortree, wat Hom sou dring om my burgerskap op te skort nie.
Wanneer ek deur genade gered is, sal ek altyd ‘n plek hê.
Selfs voordat ek gered is was Sy oog op my en
nadat ek gered is sal Hy áltyd veg om my naby Hom te hou.
Hierdie land is dalk nie my huis nie.
Maar so seker as wat ek kan weet dat my SA paspoort my altyd ‘n plekkie in Suid-Afrika sal verseker, net so seker kan ek weet dat daar altyd vir my ‘n plek gereed sal wees by die Vader.
En dís waar my huis is.
Jou inspirasie vir die week: You found me
Commentaires