The Great Pottery Throwdown wys hier op televisie. Dit is ‘n kompetisie waarin pottebakkers teen mekaar te staan kom in verskillende uitdagings rondom verskillende vorme van pottebakkery.
Hierdie take kan hulle soms sommer ses ure neem vir een skepping, en daarna moet dit na die droogkamer. Die volgende dag kan dit dan gewoonlik versier en/of geverf word, voordat dit in oonde van honderde grade Celcius gebak word. As die oond nie warm genoeg is nie en die klei nie vir lank genoeg in die oond bly nie, help dit net mooi niks nie. Kan die kleipot nooit ‘n bruikbare artikel word nie.
Wat my laat dink dat pottebakkers geweldige goeie senuwees het. En dat hulle baie goeie mense moet wees. Want as daardie oond na ure oopgemaak word, is daar geen manier om te weet of hulle kleiwerk dit gemaak het of nie. Het dit gekraak? Gebreek? Dalk selfs ontplof? En hulle almal aanvaar gewoonlik die onveranderlike met onverstaanbare grasie.
Terug na die begin: Die groot geheim is om in die heel eerste stap jou klei presies ge-‘centre’ te kry op die pottebakkerswiel. As dit nie gebeur nie, sien jy sommer gou hoedat 2kg klei ‘n groot man amper van sy stoel af gooi! Soms is dit so ‘n gesukkel, dat hulle die hele bol klei eenkant toe gooi en heel van vooraf begin.
Die kleure wat hulle gebruik om die gedroogde kleiskeppings te verf voordat dit in die oond ingaan, wys ook een kleur in die bottel, maar wanneer dit hardgebak uit die oond uit kom, kan dit heel anders lyk.
Die oond van hierdie lewe het die afgelope ruk ‘n klomp mense na aan my getoets.
En soos wat hulle deur die vuur gaan, sien ek hoedat hulle heel anderkant gaan uitkom.
Ek kan sien hulle is mooi ge-‘centre’ baie lank terug en die kleure wat hulle saam met hulle in die vuur invat, sal hulle eie storie vertel nog lank daarna.
Ek weet hulle waarde is kosbaar in die oë van hulle Skepper.
Een ding wat vir my opvallend is in die proses, is dat nie alle gebreekte klei die einde hoef te beteken nie. En dit is dalk hoekom die pottebakkers so gelate kan toekyk hoedat een stuk in drie stukke uit die oond kom.
Want daar is ‘n manier om sommige breuke te herstel.
Ons eie Pottebakker kyk ook nie moedeloos toe wanneer ‘n kleipot minder volmaak uit die vuuroond kom nie. Net vanoggend lees ek:
“If, at any point short of death,
a man is disposed to turn from a vicious course,
all the resources of God’s skill and power
are on his side.”
Wat dit ookal is wat die mens noop om om te draai.
Die hartseerste is seker om te sien hoedat ‘n pottebakker sy kunswerk optel, en die bodem val uit om in ‘n duisend stukkies op die vloer te ontplof. Dit is asof die kleipot ‘n wil van sy eie het, weier om gered te word.
Steeds is daar geen einde aan die Here se genade nie…
“ ‘People of Israel, I, the Lord, have power over you,
just as a potter has power over clay.
If I threaten to uproot and shatter an evil nation
and that nation turns from its evil,
I will change My mind.’ “
Jeremia 18:6 CEV
En as Hy so praat van ‘n goddelose nasie, hoeveel te meer sal Hy nie Sy genade arm vir ons uitstrek nie?
Ek weet nie watter vuuroond op my of op jou wag hierdie week nie.
Maar mag jy die Middelpunt van jou verlange ontmoet presies daar waar die wêreld se dolheid die ergste is,
mag jy voel hoedat Sy liefdevolle hande jou skaaf tot perfeksie,
mag jy trots van die vingers van die vuuroond vertel vir elke ander stukkie klei om te hoor wanneer jy anderkant uitkom.
Gekraak of nie.
Hy het die mag om heel te maak.
Jou inspirasie vir die week: I will look up
Comments