Elke week as ek met hierdie blog van my begin, tik ek die datum en dan eers heelwat later – wanneer ek weet wat ek wil sê – kom die titel by. So, toe ek nou vanaand begin om die datum te tik – 16 Desember 2018 – val dit my op hoe ironies my gedagtes op hierdie aand verband hou met daardie dag soveel jare gelede.
In 2 Konings 8 vertel Elisa die vrou van Sunem dat dit nie vir haar veilig was in haar land nie, dat sy moes trek. En die vrou vra nie vrae nie. Sy pak op en vertrek. (Maar hoekom na die Filistyne toe, wonder ek? Hoekom sou sy haar willens-en-wetens so blootstel aan alles wat vir haar volksvreemd en soms selfs Godsvreemd was? Ek weet nie.)
Dit was nie die eerste keer dat die Here iemand weggestuur het van moeilike situasies af nie.
Dit sal seer sekerlik ook nie die laaste keer wees nie. Matthew Henry se kommentaar op hierdie gedeelte sê dit so mooi:
“It is well to foresee evil, and wisdom, when we foresee it,
to hide ourselves if we lawfully may do so.”
Ewenwel… Sy bly vir 7 jaar in annerland en toe sy terugkom gaan soek sy weer haar grond op. Ons lees niks van haar tyd weg van haar eie mense af nie. Asof dit nie die belangrikste deel van haar storie was nie. Dat sy wel teruggekom het, daaraan word soveel méér tyd gewy.
Maar… moeilikheid. Aangesien hierdie vrou self gekies het om te gaan, kon die koning die grond aanwend soos dit hom gepas het.
Met Goddelike tydsberekening vra die koning nét daardie oggend vir Gehasi, wat self ‘n dienaar van Elisa was vroeër, dat hy hom bietjie moes vertel van al die wonderwerke wat Elisa deur die jare gedoen het. Gehasi was nog besig om te vertel hoedat Elisa die vrou van Sunem se seun uit die dood opgewek het, toe die einste vrou en haar seun binnegestap kom…
“’Kyk, U Majesteit!’ het Gehasi uitgeroep.
‘Dít is die vrou en haar seun wat deur Elisa lewendig gemaak is!’
‘Is dit waar?’ het die koning haar gevra. Sy het alles bevestig.
Die koning het ’n amptenaar van die paleis saam met haar gestuur. Hy het vir die amptenaar gesê: ‘Sorg dat sy alles kry wat aan haar behoort.
Sorg verder ook dat sy die waarde ontvang van die oeste wat op haar lande ingesamel is
van die tyd wat sy weg was.’”
2 Konings 8:6
Soms sê die Here ons moet veg.
Maar soms stuur Hy ons weg wanneer dinge moeilik raak.
Hoekom nou juis die een of die ander, sal ons seker eendag weet.
Daar is gewoonlik ‘n prys te betaal wanneer ons instem om te veg. Maar ons aanvaar dit – nes ons die opdrag aanvaar. Vol moed en durf en met ‘n hemelse vertroue.
En God restoureer alles wat ons verloor wanneer ons volgens Sy opdrag veg.
Waaraan ons soms egter nie dink nie, is die prys wat ons betaal wanneer ons kies weg te stap van die geveg af…. Vir so baie mense lê daar verleentheid agter vertrek, soms groot verlies.
“We may incur loss from a worldly point of view by obeying a command of God.
But which do we prefer - worldly gain or a conscience at peace with God?
Which loss is greater - the loss of a few pounds, or the loss of our heavenly Father's smile?”
CH Irwin
Dan, hierdie wonderlike troos: die Here restoureer ook alles wat ons verloor wanneer ons volgens Sy opdrag vertrek. Weg. Na waar dit veilig is. Vra maar die vrou van Sunem.
Die oggend nog was sy ‘n ‘inkommer’. Teen die aand was sy ‘n grondbarones.
“When God’s time comes, how very easily He can fulfil His promises!”
Die opdrag is nie altyd ‘veg’ nie.
Die opdrag is ook nie altyd ‘gaan eerder weg’ nie.
Daar is nie een opdrag wat vir almal binne hulle unieke tyd in die geskiedenis en hulle unieke omstandighede dieselfde sal wees nie.
Laat ek ophou om wantrouig jóú opdrag te oordeel.
Wie weet wat die Here van mý sal vra?
Jou temalied vir die week: Seasons change
Comments