“That feeling you get when you see someone read a book you like…? It’s like the book is recommending the person.”
My jongste herinneringe is gevul met boeke. My pa was stadsklerk op ‘n klein dorpie in die Suid-Vrystaat en my ma was die kassiere by die munisipaliteit. Net langsaan was die Openbare Biblioteek en dis hier waar ek my middae (van Stoute-Kabouter-Kleuterskool-dae af al) sou omlees en omdroom.
Die kinderboeke was aan die regterkant soos jy by die deur inkom en daar sou ek een van die klein, vierkantige houtstoeltjies vat en myself tuismaak by die begin van die rak. En lees en skuif en lees en skuif totdat dit 4-uur was, want dan kon ons huistoe gaan. En môre is ek weer op my pos.
So gekonfyt was ek in die uitleg van die Bib, dat Tannie Tossie my al vir haar laat instaan het oor skoolvakansies vandat ek in Standerd 2 was. (Was dit nou ‘n bederf! Dan kon ek die heel dag Liewe Heksie plate luister en dis nou maar jammer vir die ooms en tannies wat hulle Konsalik en Ena Murray’s kom soek.)
By die kleuterskooltjie was my eie persoonlike rakkie gemerk met ‘n appel. Skeef soos wat my beeld van myself vir baie lank was, het ek gedink dis oorlat ons dieselfde lyk.
Op daardie mat het Klein Juffrou Suzy en soms ook Groot Juffrou Magda ons saamgeneem op reise ver buite dit wat vir klein Maxie die onveranderbare vier mure van haar bestaan was. Later jare sou ek gereeld my toevlug van ‘n deurmekaar wêreld vind in my kamer agter ‘n toe deur met net ‘n boek vir geselskap. En by die skool kon ek nie wag dat die onderwysers uitgeput uitroep dat ons nou moet stilsit en lees nie!
So midde-in my hoërskooljare het ek ‘n Engelse boek of twee begin lees en die kinkels in die storielyn was net vir my soveel meer opwindend as die van dokter Herklaas Verwey en Lena Stoppel van Draaiwater.
My pa was nooit een vir vreeslike fieterjasies as dit kom by feesvieringe nie. Hoe gouer dit kan kom en weer gaan, hoe beter. Toe daar egter die Kersfees van my 15de verjaardag uitgevis word oor waarvan ek sal hou, kom ‘n Engelse Bybel dadelik by my op.
En dit is toe ook so. Hier bo in my studeerkamer haal ek my Good News Bible van die rak af en dink met ‘n knop in my keel dat ek nooit my pa dankie gesê het vir hierdie Bybel nie. Voor-in het hy nogal so ewe met sy mooi lopende handskrif geskryf:
To Maxie
from Mom & Dad
with Love
Christmas 1992
En hier begin my liefdesverhouding met daardie Boek eintlik maar vir die eerste keer. Ek onthou hoe ek in my pienk kamer met die pienk gordyne en pienk mat by ouma Max se ou kombuistafel met die gaatjiesdoek gesit en Bybel lees het. Sommer sou helder oordag – opstaan of gaan slaap nie eers in sig nie. Mooi voor die venster waar ek my eerste liefde (nou my man!) kon sien aankom met sy bloedrooi Audi100.
As ek reg onthou het ek daardie jare nog geglo dit is onchristelik om met ‘n pen in my Bybel te skryf. Maar oral soos ek blaai sien ek swart onderstreepte versies raak… die rebel in my (wat vandag nog sukkel met boksies) het seker gewen.
Soos ek nou hier blaai, soek ek na iets. Wát weet ek nie. Dit was so lank terug, my Contemporary English Version Bible het al lankal my Daaglikse Broodgewer geword.
Maar hierdie rebel se graffiti-onderstreepkuns vang my oog:
“When someone falls down, doesn’t he get back up?
If someone misses the road, doesn’t he turn back?”
Jeremia 8:4 Good News Bible
Konteks, Maxie, konteks. So ek lees rondom. En Jeremia praat eintlik hier met die mense van Juda voor hulle eie tempel en hy is kwaai. Hy praat oor hulle onvanpaste geloof daarin dat hulle maar kan maak wat hulle wil – solank hulle die Here in Sy tempel aanbid, is hulle veilig. Deurentyd kom die Here hulle tegemoet en roep uit deur Sy profeet:
“Change the way you are living…
stop doing the things you are doing…
and I will let you go on living here.”
Jeremia 7:5
Seker sonder enige reaksie, want ‘n paar verse later praat die Here direk met Jeremia:
“Jeremiah, do not pray for these people.
Do not cry or pray on their behalf;
do not plead with me,
for I will not listen to you.”
Jeremia 7:16
Skokkend.
Met pyn in Sy Vaderhart dan hierdie woorde:
“Faithfulness is dead.
No longer is it even talked about.”
Jeremia 7:28
Faithfulness is dead.
Beloftes word gemaak en gebreek met dieselfde opregte intensiteit.
En waar daar platgeval is, is daar mense wat kies om maar deur die gebreekte glas vorentoe te kruip, eerder as om op te staan en skuus te vra.
Maar ek [probeer om nie te] oordeel nie. Daarvan kry hulle genoeg. Soms maak my belangelose vertoonvriendskap dalk ewe seer? Buitendien – ek was self ook al daar.
Ek het eens gehoor van Christene wat ander buitestaanders kan vervreem deur die sogenaamde ‘holy huddle’ en ek maak ‘n punt daarvan om dit juis nie te doen nie. Om die randeiers ook welkom te laat voel. Ek was self ook al daar.
Tog… ek sal jok as ek ontken hoe my mondhoeke optrek as ek iets van daai Boek waarvan ek so hou, in jou bespeur. Maak nie saak wat jou kleur of jou taal is, wat die tattoo op jou binne-arm beteken en of jou blyplek kleiner is as myne nie: As hierdie Boek waarvoor ek so lief is, vir my net so sigbaar is in jou stem en jou hande as wanneer daar geen bundel in te bespeur is nie, dan is ek en jy familie. Klaar.
Die Boek het jou aanbeveel.
Jou temalied vir die week: Every Mile Mattered
Comentarios