top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Wanneer 'n Springbok breek

Updated: Feb 4, 2023




Liewe Pieter-Steph


Ek kon nie verder kyk gisteraand nie. Jou trane het my gebreek. Want ek verstaan.


Die magtelose gevoel as jy nie bedoel het om iemand seer te maak nie, maar dit steeds uitloop op ‘n helse hou teen die kop en moeilikheid vir iemand anders.

Die teleurstelling in jouself omdat jy glo jy het diegene wat in jóú glo, teleurgestel.

Die verpletterende besef dat wat so seker gelyk het vir die nabye toekoms, nou rondfladder sonder rigting of raad.

Jy voel sommer net hond.


Eerstens wil ek net sê: Mens (ook mans-mense) mag maar huil.

En ek vertrou dat jou trane vir menige ander mans die vrymoedigheid sal gee om hulle diepste seer te deel met die wat saak maak, wanneer dit saak maak.

Wanneer trane jou nog hulp kan kry.


Tweedens hoop ek jy vat jou span se vertoning, spesiaal aan jou opgedra, as ‘n bevestiging van hulle liefde vir jou. Die houe wat ons vir onsself uitdeel is soveel keer baie erger as daardie wat ons van buite verwag.

Jy bly ‘n Bok.


Weet jy, ek lees hierdie week in Markus 7 hoedat ‘n vrou wat nie ‘n Jood was nie, en ook maar soos ‘n hond gevoel het meeste van die tyd, steeds haar toevlug by Jesus gaan soek het.


Sy antwoord aan haar het my stom gelaat.

Sien, ek wou dit rasionaliseer deur die oë en optrede van ‘n 21-ste eeu samelewing.

Maar dan kry ek hulp van die ou teoloë en sien nuwe goed raak.


Jesus het nie geweier om haar te help nie.

Hy sou haar net nie éérste help nie.

Haar tyd sou kom.


Maar meer nog: Hy spreek haar nie aan soos die mense van haar tyd nie. Hy versag dit met die liefde vir verlorenes waarvoor ons Hom leer ken het, en verwys na haar as ‘n HUIShondjie – sien die oorspronklike gebruik van die woord.


Jesus het van Galilea noordwaarts vertrek na die omgewing van Tirus. Hy het Hom in ’n huis teruggetrek en wou dit stil hou, maar dit was onmoontlik.

Sommer gou het ’n vrou in wie se dogtertjie ’n onrein gees was, van Hom gehoor en voor sy voete kom neerval. Sy was ’n Griekse vrou wat van Siro-Fenisië afkomstig was.

Sy het Jesus aanhou smeek om die bose gees uit haar dogter te dryf.

Jesus sê toe vir haar: “Ek moet eers my eie mense, die Jode, help. Dis glad nie mooi om die kinders se kos weg te vat en dit vir die huishondjies te gooi nie.”

Markus 7:24-27 Nuwe Lewende Vertaling


Die vrou vererg haar nie, draai nie sommer om en gaan weg nie. Sy bly nederig.

Sy praat met Jesus.


Waarop sy toe antwoord: “Here, die hondjies eet tog darem onder die tafel

van die kinders se krummels.”

Markus 7:28 NLV


En Jesus sien dit as geloof.

‘n Geloof groot genoeg om haar dogter se genesing te verseker.


Ek weet nie hoekom dit nou juis gister en nou juis met jóú moes gebeur het nie, Pieter-Steph. Maar as ons Here so diep in die hart van hierdie heidenvrou kon inkyk, weet ek Hy sien jou hart ook raak en Hy weet jy is een van Sy eie (ek het jou gesprek met die Guardian gelees).

Hy ken jou motief.

Hy sien jou stomgeslane self.


Gesels met Hom.

Gee Hom kans om jou geloof te gebruik vir goed.

Hy wíl gebreekte Bokke ook regmaak.



Baie liefde

Altyd-‘n-Bok (uit Engeland)




Jou inspirasie vir die week: Heaven help me



1 Yorum


Heidi Olivier
Heidi Olivier
14 Kas 2022

SJOE jy het dit so mooi saamgevat. Ons almal het vir hierdie BOK gevoel Saterdag. Hy is 'b baie nederige speler met goeie intensies. Bok jy mag huil en mag Jesus jou wonde genees.

Beğen
bottom of page