“I’m an Englishman in New York”, sing Sting. ‘n Boerenooi in Brittanje, sou ek seker kon beaam.
Op my uiterlike beskou, sou hulle seker nie veel verskil kan sien nie.
Ek verstaan van bestuur hier – die stuurwiel sit aan dieselfde kant, regs is steeds die regte kant, en die sirkels is net baie groter. My bootse en jeans is nie opvallend anders nie en ek probeer my domheid met die petrolgooi heel nonchalant verbloem. Hierdie somer was ek nog nie veel in die son nie, so onse wangkleurtjies is ook heel naby aan mekaar. En terwyl ek my mond toehou wanneer ek iets laat val, weet niemand ook van ‘o, koek’ nie.
Maar presies hoeveel wil ek inpas, wonder ek? Hierdie gebed wat Jesus oor my bid, hoe waar is dit?
“ ‘Ek het hulle alles vertel wat U wou gehad het hulle moet weet.
Die ongelowige mense hou natuurlik niks van hulle nie.
Gelowiges is mos nie soos ongelowiges nie.
Hulle is anders as die sondige mense van hierdie wêreld, net soos Ek anders is.
Ek vra nie dat U hulle van die sondige mense af weghou nie. Net so min as wat Ek my wil ophou met die dinge van die sondige mense, sal hulle dit wil doen. Hulle is nie soos die sondige mense nie.
Wat Ek wel vra, is dat U hulle uit die grypende kloue van die duiwel en al sy boosheid sal hou.
Laat hulle besef dat hulle spesiaal aan U behoort omdat hulle in niks anders
as die waarheid belangstel nie.
Hulle weet wat die waarheid is, want hulle ken U boodskap.
Daarom stuur Ek hulle na die sondige mense in die wêreld toe met daardie boodskap.’ “
Johannes 17:14 Die Boodskap
Is ek elke dag besig om seker te maak ek weet alles wat Jesus wou hê dat ek moet weet?
Is dit vir my ‘n riem onder die hart as ongelowiges van my hou, of maak ek hulle te ongemaklik?
Is ek, wie ek is, anders genoeg om uitgeken te word tussen honderde ander wat net soos ek lyk?
Hou ek myself van sondige mense af weg, of laat ek my net nie intrek deur hulle sondige leefwyses- en sienings nie?
Is ek seker ek ken die waarheid?
Sal ek die waarheid kan onderskei?
Is ek seker ek ken U boodskap?
Is dit nog vir my ‘n spesiale voorreg dat ek uitgekies is om die waarheid te deel met ‘n wêreld wat hunker daarna?
Hoekom anders noem ek myself ‘gelowige’?
Ek stap by die verhuringsmaatskappy in Newbury in en een van die vroutjies daar het gehoor ek is van Suid-Afrika. Sy moes toe opslag net haar land-van-herkoms-genoot kom groet en binne twee sinne voel ons soos bloedsusters.
Ek stap by ‘n winkelsentrum/Loftus/munisipaliteit/Spar/Twickenham of Harrods in en ek hoor iemand van die Here praat. Net daar voel hulle soos familie.
Of soms hoef hulle nie eers te praat nie. Hier rond verrig die Oos-Europeërs baie van die minder aangename werkies en die ouerige tannie wat kamers skoonmaak in my gang, het die pragtigste, sagste, vriendelikste manier.
Whalla! Eensklaps verdwyn die uiterlike verskille. Die vreemde tale, gebruike, voorliefde vir baked beans en bloedwors, en die waarheid kom uit: Hierdie is familie.
Ons het wortels op vele plekke, maar ons harte brand met een vuur.
Maar dit hou nie daar op nie. Jesus sê dan verder in hoofstuk 17:
“ ‘Ek bid nie net vir hierdie volgelinge van My nie.
Ek stuur hulle mos om met mense oor My te gaan praat. Van daardie mense sal my volgelinge se boodskap aanvaar en hulle aan my kant kom skaar.
Vir hulle bid Ek ook!
Vader, gee dat hulle in lojaliteit teenoor mekaar soos een man sal saamstaan.
Vader, U weet hoe heg en intiem ons verhouding met Mekaar is.
Ons belange, denke en dade is totaal een. Gee asseblief dat hulle verhouding onder mekaar en veral met Ons net so heg en intiem sal wees.
As die mense in hierdie wêreld sien hoe die gelowiges saamstaan en saamwerk,
sal hulle oë daarvoor begin oopgaan dat U My na hulle toe gestuur het.’ “
As die mense sien…
Wat sien hierdie mense wanneer hulle na my kyk?
Jou temalied vir die week: Belong to you
https://www.youtube.com/watch?v=1ANCjqieojc
Comments