Chloe het die mooiste Ierse aksent. En wanneer sy vergeet ek kan nie haar moedertong se kwinkslae altyd so mooi verstaan nie, is haar onverbloemde entoesiasme in die taal van haar hart vir my sommer nog mooier!
Maar Chloe is siek. Dit kom nou al baie lank, maar hierdie keer is dit ernstig.
Gisteraand gesels ons vir 40 minute terwyl die hospitaalmonitors in die agtergrond bliep.
Ons praat diep.
Ek haal my ma-stem uit.
Ons giggel.
Ons praat oor die Here.
En ek laat haar gaan.
Tien minute later is sy bewusteloos en moet hulle haar op ‘n ventilator sit.
My eerste gedagte is: Wat het ek laaste vir haar gesê? Wat was my laaste woorde aan haar?
So ‘n paar jaar gelede duik hierdie meme’s van so ‘n stokmannetjie oral op:
Hierdie is Dirk.
Dirk word wakker en sien dit sneeu.
Dirk vertel nie vir almal op Facebook daarvan nie,
want hy weet sy vriende het almal vensters.
Dirk is slim.
Wees soos Dirk.
Onthou julle dit?
Wees soos Dirk.
Wees soos Jesus.
Toe hy hoor van Lasarus, was daar geen pyngedagte aan wat die laaste woorde was wat Hy vir Lasarus gesê het nie, want Hy het ALTYD net uit liefde gepraat.
“Die Here is goed vir ALMAL,
en barmhartig
oor Sy hele skepping.
…Die Here help ALMAL
wat geval het
en dié wat swaarkry,
tel Hy op.
…U gee aan ALMAL kos
op die regte tyd.
U maak U hand oop,
en bevredig die begeertes
van AL wat lewe.
Die Here is regverdig
in AL Sy dade;
en getrou in ALLES wat Hy doen.
Die Here is naby ALMAL
wat Hom aanroep,
vir ALMAL wat Hom
in opregtheid aanroep.
…Die Here beskerm ALMAL
wat Hom liefhet,
maar die goddeloses
vernietig Hy.
Die lof van die Here
wil ek verkondig.
ALLES wat leef,
sal Sy heilige Naam
vir altyd prys!”
Psalm 145 NLV
In ALLES, en met AL wat Hy doen en spreek, en teenoor ALMAL is die Here altyd dieselfde: Liefde.
(Ek het tot nou toe nog geen nuwe nuus van Chloe nie, behalwe dat sy stabiel is.)
Hulle sê dis makliker om die waarheid te praat, want dan hoef jy nie te onthou wat jy gelieg het nie.
Dalk is dit makliker om altyd liefde te wees, want dan hoef jy nooit te wonder wat jou laaste woorde was nie.
Jou inspirasie vir die week: Nothing back
Comments