top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Wie's jou dokter?



Hierdie week maak ek ‘n filmpie oop waar die Pa van die Bruid gereed maak om sy toespraak op Die Groot Dag te begin.  Maar net so ‘n paar sinnetjies in, maak hy skielik aanstaltes deur toe, vra die klankman om solank die gaste te vermaak met ‘n ietsie terwyl hy net gou iets gaan haal, en hardloop uit terwyl hy sy sjampanjeglas op die naaste tafel neersit.

 

Die uitdrukking op die Bruidspaar se gesig maak dit duidelik dat hierdie, in geen onduistere terme, deel van hulle beplanning was nie!

 

Die volgende oomblik flikker die TV-skerms in die lokaal aan met haar pa wat buite die gebou die trappe afhardloop, in ‘n sportmotor spring en wegjaag.

 

Wat op dees aarde….?

 

Dan volg iets uit ‘n propperse 007-movie waar haar pa ‘n polisie-jaagtog uitoorlê, ‘n draai by hulle huis maak om iets baie spesiaal op te tel, ‘n bende uitsorteer, dan in ‘n vliegtuig spring en weer met ‘n valskerm duisende meters in die lug daaruit, met die baie spesiale pakkie wat by sy onderbaadjie uitloer.

 

Die volgende oomblik kan mens sien hoe hy veilig land naby die trou-venue, die trappe ophardloop, en dan is hy ewe skielik weer in die onthaalsaal – effens uitasem, maar met haar verwese, verbleikte teddie waarmee sy nog al die jare slaap.

 

“Travelling through the country,

passing from one gathering to another,

he gave constant encouragement,

lifting their spirits and charging them with

fresh hope.”

Acts 20:2 The Message

 

Dit kon net sowel Paulus se grafskrif gewees het hierdie, voel dit vir my.

 

Of dalk sy eie 007-movie waar hy sou vlug vir sy lewe, in die nag oor stadsmure gehelp word, waar sy besties hom goedgunstiglik sou keer om in ‘n stadion met ‘n bloeddorstige massa in te gaan wat reeds een van hulle gegryp het, terwyl hy oral waar hy gaan moes fyntrap vir die wat hom wou doodmaak.

 

Ten spyte daarvan, vat hy sy hoed en sy stok en sy Hoop en reis hy meer as 10,000km om vir Christene te vertel van die goeie nuus en die verandering wat Jesus bring in die lewens van mense oral, Jode en nie-Jode.

 

Die Pa van die bruid wou vir haar iets baie spesiaal gee wat vir haar troos kon bring, wat ookal die koste.

Paulus ook. 

Maar sy pyn was eg.

 

As ek eerlik moet wees vanaand:  Hoeveel pyn is ek bereid om aan my eie lyf te voel om uiteindelik vir iemand anders Hoop te bring?

 

Sien, ‘n groot deel van die Hoop wat Paulus met hom saamgedra het, was daardie deel van die storie waar ander met sy pyn kon assosieer en kon sien hoe dit is om ander kant uit te kom en steeds ‘n blymoedige getuienis te hê.

 

Mag die manier waarop ek my pyn en jy jou pyn hanteer uiteindelik die salf wees wat ‘n wêreld in pyn se wonde lawe, sodat hulle dan gereed mag wees om te vra: “Wie’s jou dokter?”

 

 

Jou inspirasie vir die week:  Time & time again


bottom of page