Wil ek regtig hê die Here moet my gee wat ek wil hê, al is dit nie Sy plan vir my lewe nie?
My eerste instink is: Ja. Nes ‘n stout kind.
Maar ek is nie meer ‘n kind nie. Ek weet mos nou al van beter. En dit is dat die Here beter weet. Vanoggend se stuk uit 1 Samuel 8 praat so met my.
Die Israeliete is alweer aan die grom. Dit was nie meer genoeg om die Uitverkore Volk van God te wees nie. Om die enigste volk op aarde te wees wat ‘n hemelse Koning gehad het wat na hulle omgesien het en gelei het en versorg het, was nie meer cool nie. Hulle wou ‘n klein-k-koning hê.
Samuel was huilerig. Hy was teleurgesteld en verslae. Nie omdat hulle so vir hóm as hulle Godsaangestelde regter verwerp het nie, maar omdat hulle vir God eenkant toe wou skuif.
Maar die Here sê vir Samuel: “Gee hulle waarvoor hulle vra.”
Hy kon nie. Hy probeer eers met hulle redeneer, deel met hulle wat dit regtig beteken om ‘n aardse koning te hê, waarvoor hulle hulself inlaat. Maar die Volk was vasbeslote: ‘n Aardse koning was wat hulle wou hê.
Weer is Samuel terug na die Here toe…
“Die Here se antwoord was: ‘Doen soos hulle sê en stel ’n koning oor hulle aan.’ “
1 Samuel 8:22 NLV
Wat die Volk nie besef het nie, is dat hierdie ‘n hele nuwe era sou inlei. Van hieraf sou hulle onder ‘n heel nuwe bedeling staan, ‘n nuwe konstitusie kry. Die mees teleurstellende gevolg van dit wat hulle wou hê, is dat hulle bereid was om hulle status as Uitverkore Volk, uniek in hulle aanbidding van ‘n hemelse Koning, te laat gaan. Nou sou hulle nes al die ander volkere van die wêreld wees.
Hulle versoek het egter nie ons alwetende, alsiende Here onkant gevang nie. Reeds in Deut 17:14 het die Here voorspel:
“Julle sal binnekort in die land aankom wat die Here julle God vir julle gee.
Julle sal dit inneem en daar gaan woon. Julle kan dan begin dink:
‘Ons behoort ook ’n koning te hê soos die ander volke rondom ons.’
Stel dan tog ’n koning aan vir wie die Here jou God kies.”
Hieroor skryf John Piper so raak:
“A God who was constantly surprised and frustrated by sin
and changed his plans to route around unforeseen roadblocks
would not be a very great God.
That the God of the Bible not merely foresees sin
but weaves it seamlessly into his great plan of redemption and love
brings me to my knees in delightful worship and praise…”
Dankie tog God bly God. My stupid keuses sal nie Sy Algemene Wil vir die mensdom verander nie. Die Volk kies ‘n koning... maar God stuur steeds Die Koning.
Soms gee die Here toe aan my eise en ek erken: ek verstaan nie hoekom nie.
Soms laat Hy toe dat my planne realiseer, laat Hy toe dat deure vir my oopgaan wat nie binne Sy plan vir my is nie.
Die pad waarlangs ek dan moet stap lei my heel dikwels langs gevaarlike afgronde waar lewensveranderende keuses gemaak moet word, deur diep modder-moerasse waar onheilige onbekendes skuil.
Wanneer ek egter aandring op mý weg, mý manier, mý tyd bring dit skeiding tussen my en die Here en verloor ek daardie vertroosting van Sy nabyheid. Nie omdat Hy weg is nie, maar omdat ek my oë van Hom afhaal.
“When we bring ourselves into distress by our own wrong desires and projects,
we justly forfeit the comfort of prayer…”
Matthew Henry
Vraag is: Hoe belangrik is my goeie verhouding met die Here vir my?
Sien ek kans om intimiteit met Hom te verloor omdat ek so gefokus is op my eie doelwitte en tydslyne dat Hy bloot ‘n vae beeld op die rand van my sentrale visie word?
Glo ek dat Sy plan altyd beter is as myne?
Wil ek regtig hê dat Hy my alles moet gee wat ek wil hê?
Dalk nie.
Jou temalied vir die week: Faithful
Comments