top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Wil is nie my baas nie


My love affair met woorde begin al vroeg. En natuurlik, eerste met Mej. Afrikaans. Dit was immers sy wat eerste in my oor gefluister het, selfs nog voordat ek die eerste ligdag aanskou het.


Dit is egter in die eerste breukdeel van my lewe dat ek die nuwe nuances van Miss English raakloop, en daar besef ek toe wat dit is om vir twee ietse ewe lief te wees. Maar Afrikaans bly my taal en ‘n nuwe trots ontwikkel wanneer ‘n mens jou taal praat tussen miljuisende mense wat ander tale praat.


Geykte Afrikaanse uitdrukkings en daardie eiesoortige sê-goed van een van jou geliefdes, of jou streek, of jou nasie, word dan al bewonderend diep uit die kas gehaal, afgestof en beskou asof vir die eerste keer.


Een van hierdie’s is nou williswaar ‘n vertaling van ‘n baie ouer gesegde, maar “waar ‘n wil is, is ‘n weg,” kry sy staanplek net so neffens “ ’n Boer maak ‘n plan.”


Dit spoor ons aan om die Graad 6 wetenskaptaak nóg ‘n keer van voor af oor te maak.

(Vir die Graad 6’ie én vir mamma!)

Dit help ons om die stapels merkwerk nader te trek in die middel van die Springbok-rugbytoets.

Dit gee ons die moed om nog ‘n keer by daardie deur in te stap.


Waar ‘n wil is, is ‘n weg.

As ‘n mens net wíl, dan kan jy.


Tannie Joyce stel my egter nou onlangs voor aan ‘n nuwe manier om hierna te kyk.

Die feit dat ons weg nie noodwendig ‘n wil nodig het nie.


Of ons dit nou aan onsself wil erken of nie, soveel van ons daaglikse doen en late hang af daarvan of ons iets wíl doen, of nie. En in die gewone dag-tot-dag goete het dit heel waarskynlik nie ‘n merkbare effek op die trajek van my lewe nie.


Wanneer ek eers ‘n selfstandige volwassene word, het ek die keuse om te besluit dat ek niks sal doen wat ek nie wíl doen nie.


Tog lees ons in die Bybel van so baie mense wat goed gedoen het wat hulle heel moontlik nie regtig wóú doen nie.


Abraham was ‘n goeie man en lief vir sy kinders.

Hy wóú nie vir Isak gaan offer nie.


Moses het ‘n goeie lewe gehad in die paleis.

Hy wóú nie vir Farao gaan konfronteer oor sy mense se swaarkry nie.


Noag wóú nie noodwendig dag in en dag uit uitgelag en gespot word oor die ark wat hy besig was om te bou nie.

Ester wóú nie die risiko loop om die koning se woede op die hals te haal nie.

Jesus wóú nie die bittere verlatenheid van ‘n wêreld se leed op Sy skouers ervaar sonder die helpende hand en nabyheid van Sy Vader nie.


Jesus leer ons van die ander wang draai. Wil of nie.

Hy leer ons van goed wees vir ons vyande. Wil of nie.

Hy leer ons om te vergewe, sewentig maal sewe. Wil of nie.


As ‘n mens net wíl, dan kan jy.

Maar sonder dat jy wil, kan jy steeds, leer ek nou.


Here,

hierdie week is daar dalk goed

wat ek nie wíl doen nie.

Ek vra nie dat U my pad verander nie,

Here,

maar dat U my die moed sal gee

om te gaan

waar U my lei

al wil my wíl

nie altyd

saam nie.


“Father, remove this cup from me.

But, please, not what I want.

What do You want?”

Luke 22:41 The Message



Jou inspirasie vir die week: Send me



bottom of page