Vanoggend lees ek:
Never cut a tree down in the wintertime.
En dan gaan die skrywer aan om te vertel hoedat mens nie groot besluite moet neem wanneer jy self deur ‘n moeilike tyd gaan nie, dat ‘n mens net geduldig moet wees. Dat slegte tye ook tot ‘n einde sal kom.
Daar is ‘n vir my ‘n groot stuk waarheid hierin. Maar tog…
Daardie heel eerste sinnetjie spook al heel dag by my. Ek kan verstaan hoekom jy nie in die wintertyd sal wil snoei nie, want dan sal die nuwe uitloopsel dalk nooit die gure weer oorleef nie. Maar wat daarvan as jy júís van ‘n indringer wil ontslae raak? Dan is wintertyd mos die ideale tyd om die lem in te lê, sou ek dink.
Die indringerplante in ons lewens is egter soms so om ons vasgedraai dat dit te verstane is as jy te bang is jy knip jouself raak. Die probleem is dat as jy dit níé doen nie, daar vir jou geen gelukkige toekoms in die vooruitsig is nie.
“Ek sê weer vir julle: God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met sy byl in die hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap
en in die vuur van die hel gooi.”
Matt 3:10 Die Boodskap
Soms is die beste tyd om te breek met daardie indringerplant, daardie opslagboom wat toe ‘n pes geword het, daardie sonde, wanneer jy op jou swakste voel om dit te doen. Wanneer jy teen die grond is. Wanneer jy in wintertyd is.
Uit eie ondervinding weet ek dat dit soms die enigste manier is om regtig finaal daarmee te breek.
As die son nog skyn en die voëltjies sing en die boom wat jou eie groei bedreig tog mooi lyk teen die blou-blou hemel, dan sien ons soms baie dinge oor. Maar wanneer jou sielerus so bedreig word dat jy ten hemele kan skreeu, dan hoor die Here jou.
En Hy help jou.
En saam speel julle klaar met die onwelkome indringer.
“Ek wil dit so sterk stel: as jou hand maak dat jy dinge doen waarvan God nie hou nie, raak ontslae van jou hand. Dit is beter om sonder ’n hand vir ewig saam met God te leef as om met twee hande in die hel te beland waar ’n vuur brand wat nooit sal doodgaan nie.”
Markus 9:43 Die Boodskap
Dit vat soms lank om op daardie plek te kom, en Kerstyd is nie veronderstel om wintertyd te wees nie.
Altans, nie in ons helfte van die wêreld nie. So… ‘n mens stel uit, en dink kreatiewe redes uit om jou eie traagheid te regverdig.
Die Nuwe Jaar lê en loer en baie mense het mooi ideale en drome in die oog vir die nuutste 52 episodes. Maar eers dan. Dis soos om ‘n nuwe dieet te begin op ‘n Maandag. Jy oortuig jouself totaal en al dat jy beter sal vaar wanneer jy dit eers aan die begin van nuwe week sou aandurf.
Ons almal weet dit is bloot brein truuks daardie.
Wintertyd is juis die regte tyd om weg te stap van ou gewoontes en sondes, van ou verhoudings en verbindings, van ou wyn in ou sakke. Om af te kap en uit te kap. Want die wintertyd sal jou altyd herinner hoe koud dit was daar, hoe donker, soms hoe alleen. Dit sal jou weerhou daarvan om soos die hond terug te keer na sy braaksel.
Dit beteken egter nie die litteken van wat was moet nou vir altyd jou tuin ontsier nie.
Uit die Nasionale Landbougids vir 2009/2010 lees ek:
Om te verhoed dat skoongemaakte gebiede weer deur uitheemse indringerplante ingeneem word, moet opvolgaksies onderneem word vir so lank as wat nodig is. Dit is ook baie belangrik om ‘n meer gewenste soort plantegroei
in die skoongemaakte gebiede te vestig…
"Vir solank as wat nodig is." Kyk na jouself vir solank as wat nodig is.
En wanneer jy dan weer vestig, is dit lekker om te weet die mooiste bolle blom in die winter… Affodille, ranonkels, irisse. Dalk onder die grond vir lank, maar wanneer dit uitstoot boontoe is hulle onmiskenbaar lewendig en vol kleur en geur, reg uit die hemelse kweekhuis. Selfs al is dit winter daarbuite.
Moenie langer uitstel nie.
Gebruik die winter in jou lewe om plek te maak vir nuwe groei.
Dis OK.
Jy is OK.
Omdat jy weet hoe winter is, sal jy somer meer waardeer.
Jou temalied vir die week: Maybe it’s OK
Comments